‘Honger’ diewe kul en besteel mense by lisensiekantore

Mense bied ‘hulp’ aan by die lisensiekantoor net om met jou geld te verdwyn.

Diewe vat elke dag hul kans om mense en besighede te beroof.

Linda en Charles Botha van Klipfontein was die teiken van twee diewe by die lisensiekantoor in die onderdorp.

Die paartjie het Saterdagoggend, 20 Mei na die lisensiekantore gegaan om Charles se lisensiekaart te hernu.

“Ek het gelukkig net my selfoon by my gehad en my man, Charles het sy beursie met kontant en dokumente, soos sy oogtoetspapiere, by hom gehad,” het Linda vertel.

Charles het gesê by hulle aankoms by die kantoor het alles vreemd gelyk, want daar was skaars drie voertuie binne die perseel te sien.

“Ons sien daar gaan niks aan nie, maar hulle het gesê dit is Saterdae oop. ’n Man het ons genader en hulp aangebied,” het Charles verduidelik.

Volgens Charles het die man ook aan die paartjie verduidelik dat hy hulle sal moet help, aangesien die werkers van die kantore besig was om te staak.

“Daar het drie voertuie gestaan, maar ek glo nou dit was die sekuriteit se voertuie. Die man het ons by die hek gestop waar ons moes inry, toe vra hy vir ons ‘wat wil julle hier kom maak’. Ons het toe aan die man verduidelik dat ons my man se lisensie-kaart wil kom hernu, want hy verval een van die dae. Die man het toe aan ons gesê dat hy my man sal kan help en hy het die papiere wat ons moet invul by hom. Daar het toe ʼn tweede man nadergekom en gesê dat hy ons ook gaan help en ons verduidelik toe aan hom dat ons klaar gehelp word deur die eerste man wat ons genader het,” het Linda verduidelik.

Volgens Linda het die eerste man papiere gaan haal naby ʼn boom oorkant die pad en klim toe met gemak en sonder huiwer agter in die paartjie se voertuig in.

Charles en Linda het gesien dat reg langs die boom waar die man die dokumentasie gaan haal het, ʼn self-opgerigte hokkie was waar identiteitsfoto’s (ID) geneem word. Die paartjie kon toe aflei dat die man die klein besigheid bedryf.

“Toe die man homself help en net inklim, toe wil die ander man ook inklim en ons moes die gretige man stop. Die man wat die ID-fotos neem, het vir my man gesê hy sal hom wys waar om te ry. Die man wys toe ons moet agterom die gebou ry, want daar is ʼn vrou daar wat ons sal help, maar ons mag nie saam die man ingaan nie, anders sal hulle ons nie help nie.

Die man het die dokumente geneem en gesê hy benodig R330 dan sal hy gou ingaan en als uitsorteer.

“Terwyl die man weg is met die geld het ’n sekuriteitwag ons genader wat by die toetsstasie waghou en vir ons gesê dat die man wat ons ‘gehelp’ het,  weg is met ons geld. Die sekuriteit is die skelm toe agterna om die een kant van die gebou en ek en my vrou het die anderkant om gery maar die man was klaar weg,” het Charles verduidelik.

Die paartjie het toe maar tou opgegee in hul soektog en ʼn verklaring by Witbank Polisiestasie gaan aflê. Charles het verduidelik dat sy bloeddruk deur die dak geskiet het en dat hy amper nie kon asemhaal nie.

“Ons was skaars vir ʼn uur in die dorp besig toe my foon lui en my buurvrou vir my vertel dat ons by die huis moet kom, want daar staan ʼn polisievoertuig en bakkie voor ons hek,” het Linda vertel.

Volgens die Botha’s het die dief nadat hulle weg is by die lisensiekantore, teruggekeer na sy stalletjie toe waar sekuriteitswagte aan diens die twee mans, wat vermoedelik saamwerk om mense te kul, vasgetrek het en die polisie geskakel het.

“Toe ons by die huis kom, was die polisie klaar daar en het my ou bestuurslisensie en dokumente aan my teruggegee. Agter in die polisiebakkie was die twee skelms. Toe daar vir hulle gevra was hoekom hulle ons besteel het, was hulle verskoning dat hulle honger was,” het Charles verduidelik.

Linda en Charles waarsku egter mense wat die lisensiekantore besoek om nie hulp te aanvaar van vreemdelinge nie en baie versigtig moet wees.

“Dit kon soveel erger uitgedraai het. Hy kon die bakkie gevat het en hy is gelukkig net weg met daardie R330. Ons is só dankbaar vir die polisie se vinnige reaksie, maar ons is baie dankbaar vir die sekuriteitswagte wat uit hulle pad gegaan het om die diewe vas te trek,” het Linda afgesluit.

 

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

Exit mobile version