Local newsNews

CSC reaksie offisier help leerder tydens rooftog

Leerders word gemaan om op hul hoede te wees as hulle huiswaarts keer na skool.

Die 14-jarige Jordan Barnard kan homself gelukkig ag dat ’n reaksie offisier wat gesien het hoe hy beroof word, die twee agternagesit het verdagtes sonder om te dink.

Jordan, ’n leerder van ’n plaaslike hoërskool het op Vrydag, 5 Mei na skool vir sy ma op die hoek naby die skool gewag om hom op te laai.

Volgens Jordan het twee onbekende mans hom genader en gevra hoe laat dit is.

“My seun het gesê dat hy aan die twee onbekendes gesê het dat dit om en by 14:20 is, maar een van die mans het gesê hy wil die tyd sien,” het sy ma, Lindy Barnard vertel.

Jordan het vir die twee persone nee gesê en een van die mans het ’n mes op Jordan gerig.

“Een van die mans het Jordan se hande gegryp, terwyl die ander man sy foon in sy sak uitgehaal het. Die mans het Jordan toe op die grond gegooi en weggehardloop. Soos wat ek aangery gekom en gestop het, het Lucky Mahlangu van CSC Virtual Guarding ook die voorval gesien en omgedraai en dadelik gestop en gevra wat gebeur het,” het Lindy vertel.

Volgens Jordan se ma het haar seun saam met Lucky in sy voertuig geklim en hulle het die twee skelms agternagesit.

Daar was glo ook ander leerders op die hoek waar die rowers ʼn groep skoolmeisies probeer beroof het. Daar was vir die meisies gesê om op die grond te lê.

Lucky het die rowers vinnig agterna gesit en sy span was ook baie vinnig op die toneel. Een van die twee skelms is gevang en my seun se foon was ook by hom gekry,” het Jordan se ma vertel.

Volgens Lindy het hulle allerhande items by die skelm gekry soos sakrekenaars en selfone.

“Ek sal baie graag ander ouers bewus wil maak van die gevare en leerders moet eerder by die skool-ingang wag om opgetel te word, waar daar ander mense is.

Die skelms het gesien my seun staan alleen en het hom as ʼn maklike teiken gesien,” het Lindy afgesluit.

Lucky, wat die redder van die dag was kon nie teen druktyd komentaar lewer oor die voorval nie.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET? Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Back to top button