Local newsNews

Dankie Oom Clive en Oom Henro

Dankie tog, Clive Hatch se voorlegging het die Kaap gehaal.

Alles in Afrika is stadiger as in die res van die wêreld. Dit is asof dit ’n norm is om laat op te daag vir enige iets en ’n waterkrisis te ‘vergeet’ vir twee jaar.

Wat my gemoed die week laat wipplank ry van woede en hoop, is die water-sage wat nou eers na twee jaar deur die ‘regte’ mense raakgesien word.

In 2020 het mnr. Clive Hatch, voorsitter van die Demokratiese Alliansie ’n petisie opgestel oor die waterprobleme wat elke dag net vererger.

https://www.citizen.co.za/witbank-news/137495/water-problem-taken-parliament/?platform=hootsuite

Opgewonde het almal die petisie geteken en dié is na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gestuur en hulle het gou die mislikepaliteit oor die vingers getik omdat hulle nie met Jan Alleman kommunikeer nie en ons vertel hoekom die krane alweer net roggel nie.

In 2021 het Oom Clive ’n voorlegging gemaak en vir die groot ooms in die parlement gestuur.

En net daar was dit die laaste druppel.

So het meer as 730 dae verloop en skielik onthou iemand van die waterkrisis in Emmawillielênie.

Oom Henro Kruger, wat bekend is vir die strikdasse wat hy dra, het die dinosourus voorlegging uitgekrap en ter tafel gelê.

Hy het nie strikdasse om die probleem gedraai nie en die voorlegging het nie net op die tafel gelê en vergete geraak nie, daar is ook daaroor gesels.

Nou skielik is almal weer wakker en het onthou van Emmawillielênie se water en vergader die week in die mislikepaliteit om die oer-oue krisis te bespreek.

Sit die Engelsman rustig agteroor en glimlag. Sy grootste probleem is die water,

want hy kan nie sy drinkdingetjie sonder ’n  druppeltjie water en ‘eish’ geniet nie.

En ja, hy drink sommer kraanwater saam met sy knertsie, want hy seg altoos alkohol sal al die kieme in die water doodmaak.

Hou saam met my duim vas dat Afrika-tyd nou dopgehou moet word ná die vergadering by die burgemeester ‘Kon-nie’ se kantoor, want sy wil sekerlik nie onthou word as die burgemeester wat Emmawillielênie laat sink het nie.

 

Check Also
Close
Back to top button