Twee jong mans sterf binne 24 uur op paaie in eMalahleni

Een van die jong mans sou Sondag sy 24ste verjaardag gevier het.

Familie en vriende van twee jong mans is in rou gedompel na beide hul lewens in twee afsonderlike padongelukke verloor het.

Die tragiese ongelukke, waarin Fernando Agstinho Sena (23) en Jonathan Coetser (19) gesterf het, het binne 24 uur uit mekaar gebeur.

Fernando, ʼn insleepdiens-drywer het die aand van Sondag, 9 April op die Ogies-pad gery om ʼn voertuig te sleep toe hy in ’n kop-aan-kop botsing betrokke was.

SIEN DIE VIDEO HIER | ’n Laaste eerbetoon aan Fernando Sena deur kollegas, familie en en vriende.

Hy is later in die hospitaal oorlede.

Fernando Sena (23).

Fernando se ma, Anamaria Botha het gesê dat haar seun oppad was na ’n ongelukstoneel toe die ongeluk gebeur het, maar dat sy nie seker is wat gebeur het nie.

“Ek is stukkend, my hart is in stukke, ek kan nie eers beskryf watter emosies ek voel nie. Ek is kwaad en seer en hartseer en gebroke.”

Fernando sou Sondag, 16 April sy 24ste verjaardag gevier het.

“Hy was ʼn besige kind en ʼn regte ‘mama’s boy’ wat baie lief was om sy suster te terg. Hy sou ook dikwels inkom en sê ‘ouvrou maak vir my koffie asseblief’ of ‘ouvrou trek aan ons gaan ry’ – ek gaan dit baie mis,” het sy deur haar trane vertel.

Anemaria het vertel dat Fernando haar steunpilaar was, veral in ’n moeilike tyd, terwyl sy teen kanker geveg het.

Die maatskappy waarvoor Fernando gewerk het, het op 11 April ʼn ‘last ride’ vir hul geliefde vriend en kollega gehad. Dié eerbetoon is deur verskeie insleepdiens-drywers bygewoon.

Fernando se roudiens vind Vrydag, 14 April plaas.

Hy laat sy kind van drie jaar, sy ma en suster agter.

Jonathan Coetser (19).

Jonathan Coetser (19) het Maandag, 10 April met sy motorfiets in Beattylaan gery.

Hy was van die werk af op pad huistoe toe hy in ʼn ongeluk met ʼn ander voertuig betrokke was.

Sy pa, Fanie Coetser het vertel dat hulle nie seker was wie in die verkeerd was nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

“Sy werk het 14:00 verdaag en hy was oppad huis toe. Soos ek verstaan, was die ander voertuig ’n Polo,” het Coetser gesê.

Volgens Coetser het sy seun ʼn passie gehad vir karre en motorfietse en die herstel daarvan.

“Enige ding wat ʼn enjin gehad en lawaai het, het Jonathan geniet,” het sy pa gesê.

Jonathan het by sy pa gewoon.

“Ek weet nie wat ek gaan maak nie, sy afsterwe vang my, ek is nou alleen in die huis en voel so alleen. Ons het altyd saam gewerk aan karre en hy het baie belangstellings gehad in dieselfde goed as ek, hy het baie in my voetspore gevolg.”

Jonathan se broer was ook verlede jaar in ’n ongeluk betrokke wat hom 80 persent gestremd gelaat het. Die ongeluk het byna op dieselfde plek gebeur.

Jonathan laat sy ouers, broer en suster na.

“Ek gaan jou baie mis,” het Coetser ten slotte gesê.

Geen roudiensreëlings was teen Dinsdag nog getref nie.

Het jy meer inligting oor dié artikel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

Exit mobile version