News

Onderwys legende gee fakkel oor na 39 jaar

Die Hoër Tegniese Skool het een van hul steunpilare na 39 jaar gegroet.

Die Hoër Tegniese Skool  (HTS) legende, me. Magda Wolmarans, het ná 39 jaar in die onderwys besluit om haar onderwysbaadjie op te hang in ruil vir die rustigheid van aftrede.

Tydens ’n baie spesiale geleentheid Donderdag, 23 Maart het HTS se personeel dié juffrou met die goeie sin vir humor en vinnige stappie, gegroet.

Me. Wolmarans, ’n gebore onderwyser, het die afgelope 39 jaar by HTS op verskeie gebiede diep spore in die harte van duisende leerders getrap.

“Haar passie vir die kunste en haar liefde vir onderwys was duidelik sigbaar in die wyse waarop sy elke dag haar klaskamer betree het,” het me. Lienie Botha, die skool se hoof gesê.

Me. Botha het me. Wolmarans bedank vir die enorme bydrae wat sy in soveel lewens gemaak het en vertel van al die goeie herinneringe wat hul sedert die vroeë negentigs deel.

Mnr. Wollie en me. Magda Wolmarans.

“Deur die jare het sy ongelooflike akademiese en kultuur prestasies behaal. Sy was ook die afgelope paar jaar aan die stuur van akademiese sake as adjunkhoof. Sy het vele leerders en kollegas dag na dag geïnspireer, onderrig en gemotiveer,” het me. Botha gesê.

Me. Wolmarans se dogter, me. Marelize Joubert en mnr. Bennie Botha, het dié fenomenale onderwyseres met ’n pragtige skildery en persoonlike boodskappe van oudskoliere verras, waarna die trane vrylik gevloei het.

Me. Wolmarans los ’n voetspoor vol avontuur en onthou-oomblikke  agter.

“Baie dankie vir die enorme bydrae en impak wat u in soveel lewens gemaak het, u laat ʼn groot leemte!” was die boodskap van die skool af.

Me. Wolmarans se ma het altyd gesê sy moet gaan onderwys swot.

“My antwoord was, nee, ek vee nie laerskoolleerders se loopneuse af en ek hanteer nie hoërskoolleerders se ‘tantrums’ nie. En kyk waar is mens 39 jaar later ‒ so luister vir jou ma!”

Twee van haar en haar wederhelfte, mnr. Wollie Wolmarans se kinders is in die onderwys. Gert is in Yangchou in Sjina en Marelize by HTS.

“Ek is bly hul het vir hul ma geluister,” het me. Wolmarans gesê.

Sy het gesê onderwys is voorwaar nie maklik nie, so met leerders, ouers en die onderwysdepartement wat probleme gee, maar dis alles die moeite werd.

“Daar is soveel ongelooflike geleenthede in hierdie beroep. Behou humor en sterk jou persoonlikheid,” is haar raad aan onderwysers asook aspirant onderwysers.

Sy het gesê sy gaan die res van die jaar nog vir HTS se matrieks, wat sy beskryf as ’n groep besondere kinders, klas gee.

“Daarna gaan ek en Wollie bietjie Marloth toe en dan gaan ons die pragtige Namibië besoek,” het sy hulle toekomsplanne gedeel.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490.

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

 

 

Back to top button