Local newsNews

Het jy nie beloof om ander te help nie?

My ink drup die week inwoners se hartseer en trane oor diens by Witbank Hospitaal.

Die ink is nog nie eens droog op die een berig van die staatshospitaal nie, dan wag ’n ander reeds om geskryf te word.

Een na die ander hartseerverhale vloei uit my pen soos slagoffers na vore tree na nagmerrie ondervindings by die hospitaal.

Elke keer is dit dieselfde – pasiënte word afgeskeep, nie voldoende mediese sorg word gegee nie, operasies word uitgestel en afgestel en pasiënte huistoe gestuur.

Week na week stuur ek dieselfde boodskap na die gesondheidsdepartment en ek vra en pleit vir antwoorde.

Die jong pa wat nou na sy drie-maande-oue baba moet omsien na sy 22-jarige vrou se skielike dood in die hospitaal se trane het sy woorde versmoor.

“Tannie my sonskyn is weg, nou het ek ’n klein bondeltjie waarin die sonskyn saamgevat is. Ek hoop om eendag weer sonskyn te sien,” het hy gesê.

My hart het net daar in stukke gebreek en dan begin die vrae van vooraf.

Waar het die gesondheidsdepartement ons gefaal?

Ons betaal die taksman elke jaar, hoekom word ons provinsiale hospitale nie toegerus nie?

Wat het geword van die eed van Sokratis, primum non nocere – “first do no harm” wat verpleegpersoneel en dokters aflê.

Is dit nou net ’n leë sinnetjie sonder anker wat tussen oproerigheid, lae morale en wanbestuur weggeraak het?

Daar is baie mense wat hul medies noodgedwonge moes stop omdat dit fanansieël net nie meer bekostigbaar is nie. Hulle is nou van die staatshospitale afhanklik en dit opsigself is baie stresvol.

Nadat ek en die Engelsman na die jong pa se stemnota geluister het, was daar ’n lang uitgerekte stilte waarin ons probeer sinmaak van die hartseer en wanhoop.

Die ‘eish’ klingel saggies teen die Engelsman se whiskeyglas en hy seg niks vanaand nie, maar sy oë vertel my dié storie van die jong mamma het sy hart geraak.

 

Wat is jou opinie?

 

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

Back to top button