Besighede loop deur onder gewapende rooftogte

Selfoon-besigheid het ʼn harde terugslag gehad toe twee diewe met 35 nuwe fone weggekom het.

Besighede het die afgelope week die knyp gevoel van rowers wat hulself help en steel.

In die eerste geval op 18 Februarie, het ʼn inwoner wat oppad werk toe was, ʼn grys Toyota Tazz sien staan met twee onbekende persone binne in die voertuig.

Die werker het niks verdags gesien met die kar nie en het aangehou ry na sy werksplek toe.

Volgens berigte, toe die werker by die hek kom van die besigheid, het hy opgemerk dat die wag nie op sy pos is nie en dat die grys voertuig hom agtervolg het tot binne in die perseel.

Die werker was oorval deur twee onbekendes en een vuurwapen was op hom gerig.

Die boewe het aangedring dat hulle opsoek is na diesel.

Die werker het die paniekknoppie gedruk en nog sekuriteit het op die toeneel opgedaag, maar die diewe was klaar weg met die gesteelde diesel.

Nog ʼn voorval het op die aand van 15 Februarie plaasgevind toe ʼn sekuriteitswag aan diens was by ʼn besigheid in Klarinet toe hy oorval is deur booswigte.

“Ons was drie wagte aan diens op die aand van die voorval. Die ander twee wagte het gesê hulle gaan net kos koop, dan is hulle terug,” het die wag vertel.

Volgens berigte het daar drie onbekende persone hom genader en met ʼn vuurwapen gedreig. “Hulle het my gevra hoeveel mense nog in die besigheidsperseel is en my toe geslaan in my maag. Toe ek nie kon antwoord nie, het een rower sy vuurwapen in my mond gedruk en gesê dat ek nie ʼn geluid moet maak nie. Hulle het tou gekry en my vasgemaak,” het die sekuriteitswag gesê.

Volgens berigte was die sekuriteitswag saam met ander werkers vasgebind.

Die rowers het die werkswinkel binnegegaan waar hulle ʼn weegskaal, vurkhyser se battery en diesel gesteel het.

Hy het vertel dat hy in skok was op die oomblik van die aanval en het magteloos gevoel omdat hy niks kon doen nie.

In ʼn derde geval het diewe weggekom met 35 nuwe slimfone toe twee verdagtes die foonwinkel in Del Judor ingestap het en hulself as kliënte voorgehou het.

Volgens berigte het die rowers een van die winkel-assistente opdrag gegee om na die agterkantoor toe te gaan waar nog twee assistente gewag het.

Die verdagtes het ʼn vuurwapen gehad wat hulle gebruik het om te intimideer.

Die slagoffers kon nie die voertuig identifiseer wat die diewe gebruik het om mee weg te kom nie.

Niemand is in die voorval beseer nie.

 

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

Exit mobile version