CrimeLocal newsNews

Diewe gee inwoners gas

Paartjie word wakker met vier gewapende mans in hul slaapkamer.

Dit vir voorkom of diewe nie ʼn slaaptyd het nie.

Inwoners van eMalahleni moet met een oog oop slaap vir boewe in die nag.

Louwrens Erasmus was geskok toe hy op sy kamera sien dat diewe twee aande in ʼn ry probeer inbreek het.

Die boewe het op 14 en 15 Februarie weggekom met twee gasbottels. “Dit wil lyk asof hulle oor die muur gespring het.

Die eerste oggend is die dief weg met een bottel en die volgende oggend is nog ʼn dief weg met nog ʼn gasbottel,” het Louwrens gesê.

Louwrens het gesê dat hy ʼn klomp geld moes opdok vir ʼn sekuriteitalarm om te kan hoor as die diewe weer inkom.

“Die skelm het eers die groot silinder probeer steel wat ek die vorige aand opgesit het, toe is hy te swaar vir hom. Hy gaan gooi toe die silinder by die hek neer en gaan soek iets anders om te vat. Hy ontdek toe my stoofsilinder wat hy mee weggekom het,” het Louwrens gesê.

In die tweede geval in Die Heuwel het boewe ook hul geluk probeer.

Daar word vermoed dat daar meer as drie verdagtes was en dat van die skelms oog gehou het buite die erf, terwyl drie binne besig was.

Video-materiaal wys waar die diewe ingekom het by ʼn buitevertrek wat gebruik word as ʼn ontspanningsarea.

Volgens berigte het die skelms weggekom met ʼn plasma TV en ʼn klanktoestel, asook drank.

Tydens nog ʼn voorval van huisbraak in Die Heuwel het twee inwoners geskok wakker geword met vier onbekende mans in hulle slaapkamer.

Volgens berigte het die mans hulself bewapen met skerp voorwerpe, soos skroewedraaiers.

Die verdagtes het die inwoners instruksie gegee om stil te bly. Gelukkig is niemand beseer tydens die voorval nie en die skelms is weg met twee slimfone.

In nog ʼn geval op die ou Verenapad, is nog ʼn inwoner met ʼn wapen gedreig in sy huis.

Volgens berigte het die inwoner laatnag ʼn klop aan sy deur gehoor nadat hy sy hek en motor gesluit het.

Toe die inwoner wou gaan kyk wat aangaan, het die rowers die deur van die woning ingeskop en die huis binnegegaan.

Volgens die slagoffer was al drie boewe gewapen met vuurwapens en geklee in langmouklere en het klapmusse opgehad.

Niemand is beseer tydens die huisbraak nie, maar die boewe is weg met ʼn slimfoon, asook die slagoffer se werksvoertuig.

 

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

Back to top button