Liefde is ’n aksie-woord seg die Engelsman

Is liefde net ’n ses letter woord? Kom ons gaan kyk dieper na wat die slimmes sê oor dié woord.

Valentynsdag is hier en oraloor word briefies, rose en sjokolade aangestuur.

Vroeg op Valentynsoggend vat ek die klong skool toe en hy deel sy stukkie wysheid vir die dag met my.

Wat is liefde?

Daar was verskeie slimkoppe wat die woord liefde probeer omskryf het.

Bertrand Russell het die woorde ‘absolute waarde’ gebruik.

St. Thomas Aquinas se definisie van liefde is om altyd te wil hê dat net goeie dinge met iemand anders gebeur.

Om vreugde te kry as iemand anders gelukkig is was deur die filosoof Gottfried Leibniz  gefilisofeer.

My klong se raakvat-antwoord het my laat besef dat ons nie ver in geleerde boeke hoef te gaan soek vir die woord liefde se betekenis nie.

Vir hom is liefde wanneer mamma vir hom ’n broodjie maak en by hom sit en fliek kyk.

Die klein klits het die ratkas van my gedagtes aan die gang gesit en ek het vir ’n oomblik stilgestaan en my eie definisie van liefde saamgeflans.

Ons wêreld is krom en skeef, en oraloor is stukkende siele. Dit is juis deur daardie stukkende siele waardeur God se liefde en grootheid die mooiste deurskyn.

So wat is liefde dan?

In ons pandokkie is dit die gelaggery wat teen die mure afbons, die skottelgoed wat skelm knipoog, die oomblikke wat jou asem wegslaan, sekondes wat jou laat glimlag wanneer jy stilweg opkyk en sê ‘dankie Here’.

En natuurlik het die Engelsman ook ietsie te seg, “Wanneer jy deur die venster van die lewe kyk en familie en vriende sien wat deur ’n onsigbare band aanmekaar vasgebind is, dan weet jy wat liefde is. Liefde is ’n aksie-woord, liefde word gedoen.”

Deel gerus jou nuusbrokkies met ons: Telefoon 013 656 2490 of epos info@witbanknews.co.za

Jy kan ons ook op sosiale media volg InstagramTwitter Witbank News App

 

Exit mobile version