News

Blancheville trap beweerde dief baie vinnig vas

Die reaksiespan van Blancheville het vinnig reageer toe daar om hulp gevra is op Zello.

Die Blancheville buurtwag het hulle hande vol gehad by die Puma Petrolstasie in Jackaroopark.

Op 17 Januarie was die span uit nadat daar om hulp gevra was op die populêre toep Zello.

Volgens Frik van Dyk, wat ook op die  Blancheville buurtwag se Zello-kanaal is, het hulle dadelik gereageer toe daar ʼn onbekende man ingeloop het by die vulstasie en die Dierebeskermingsvereniging se kollekte-blikkie gegryp en gehardloop het.

Frik het gesê dat die dief só vinnig daar weg is met die blikkie geld dat hy skoon sy hoed en loopstok agtergelaat het.

“Ons het dadelik uitgegaan na die vulstasie en na die man begin soek. Hy is gevind in ʼn nabye veld waar hy weggekruip het,” het Frik gesê.

Die buurtwag het die verdagte teruggeneem na die vulstasie waar die polisie hom gearresteer het.

Die bestuur van die Puma Vulstasie sê dat die voorval om en by 21:15 gebeur het.

Die bestuurder van die winkel, Dewald Labuschagne het bevestig dat die man gearresteer was, maar dat die verdagte volgens die personeel weer vrygelaat is.

“Daar is baie stories wat nou rondloop oor die voorval,” het Labuschagne gesê.

Tot dusvêr was daar nog geen saak oopgemaak by Witbank Polisiestasie nie.

Polisie woordvoerder Kaptein Eddie Hall het gesê dat dit kan wees dat die man vrygelaat was omdat daar nie ʼn saak oopgemaak was deur die eienaar van die vulstasie nie.

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za 

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: Instagram Twitter Witbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

 
Back to top button