News

‘Los ons goed in Blancheville uit’ waarsku buurtwag

Buurtwaglede van Blancheville het ’n vermeende selfoondief tot in ’n plakkerskamp gevolg om ’n selfoon terug te kry.

’n Selfoondief het sy rieme styfgeloop in Jackaroopark met tegnologie en ywerige buurtwaglede.

Me. Scarlett Hefer se selfoon is op 19 Desember uit haar voertuig gesteel toe sy by die garage by die Jackaroo-kruising gestop het nadat haar ruitveërs nie wou werk nie.

Met die gietende reën moes sy by die garage stop om te kyk wat fout is.

“Ek was besig om na die ‘fuse-boks’ te kyk, toe die man van nêrens afgekom het, my foon uit my kar gegryp en weggehardloop het,” het Hefer vertel.

Van die garage se petroljoggies is die man agterna, maar toe hulle na hom gryp het hy homself uit sy baadjie gewriemel en is in nabygeleë myngronde in.

Buurtwaglede van Blancheville het die noodroep op Zello gehoor en het dadelik Hefer se selfoontoep geaktiveer en kon presies sien waarheen die haastige vermeende dief op pad was.

Die inligting is na die manne op die grond deurgegee wat die vermeende selfoondief al langs die treinspoor tot in MNS Plakkerskamp gevolg het.

“In die plakkerskamp het ons die selfoonsein gevolg tot ’n geboutjie in ’n oop stuk veld waar ’n klompie manne gestaan en gesels het. Hulle het aan die buurtwaglede gesê ’n man het sopas ’n selfoon aan hulle probeer verkoop. Toe die selfoondief die buurtwaglede gewaar het hy die selfoon neergegooi en laat spaander,” het mnr. Riaan van Wyk, voorsitter van Blancheville Buurtwag gesê.

Die selfoon is in die gras opgetel presies op die plek waarheen die toep die manne gelei het.

“Hierdie is ’n voorbeeld van uitstekende spanwerk en puik koordinering. Hierdie manne het gisteraand bewys hulle is ernstig oor hulle buurt en hulle gaan dit beskerm,” het Van Wyk gesê.

Hefer was baie bly om haar selfoon terug te kry, “Ek het net waardering vir die span. Hulle het die ekstra myl geloop om my selfoon terug te kry. Hierdie buurtwag verdien ’n pluimpie.”

Deel jou stories met ons Telefoon: 013 6562490 Epos: info@witbanknews.co.za

Volg ons ook op sosiale media platforms: : Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Back to top button