Koebaai 2022 groet ons die jaar met nostalgie

Dis koebaai-for-now

Desember het ons ’n oopbek-klapsoen kom gee en aangekondig dat 2022 amper verby is.

As ek so terugkyk, sien ek ’n jaar vol opwinding, baie veranderinge, hoop, gebede, eina’s en wipplank-oomblikke.

Die jaar het afgeskop met die hartseer nuus dat Ma’Linah, die munisipaliteit se geliefde burgemeester en haar man in ’n ongeluk dood is. Emalahleni was in rou gedompel.

Net daarna moes raadslid Conny Nkalitshana die leisels oorneem en baie was maar skepties of sy Ma’Linah se skoene sou kon volstaan.

Alles het goed gegaan, tot die burgemeester die prokureurs wat die munisipaliteit se rekeninge moet invorder, die deur gewys het. 

Vandaar af was dit absolute chaos, want hoekom sal die rekeninge nou vereffen word as daar nie ’n straf uitgedeel word as jou rekening nie betaal word nie.

Inwoners het ook aan die begin van die jaar hul misnoeë uitgespreek toe talle huise omtrent geskud en vensters gebreek is nadat onwettige myners hulle misgis het met die plofstof.

Inwoners van Duvhapark het omtrent ‘ontplof’ en die mynreus Thungela moes vinnig optree om die gemoedere te kalmeer. 

Reeds vroeg in Maart het inwoners begin kla oor waterprobleme.

Dié is nog steeds nie opgelos nie en die munisipaliteit gebruik steeds die oeroue verskoning dat die ou infrastruktuur besig is om mee te gee.

Dit blyk net nie of iemand met ’n goeie plan vorendag kan kom om die probleem op te los nie. 

Toe kom die skoknuus dat een van die reuse in die padvervoer industrie, Massyn Vervoer ook gaan handrem optrek.  

Nie alles in Emmawillielênie is altyd hartseer nuus nie ‒ ons het ook in die mooi oomblikke gedeel. 

Ons is geseënd om elke week nuus aan ons lesers te lewer.

Ons is geseënd met moderne tegnologie, want nou kan ons blitsvinnig met ons lesers gesels en stories wat die lesers raak op die webtuiste sit.

O ja, dit was ook ’n goeie jaar vir my gesin, want die VLU-tannies het my geleer hoe om ’n koek in sewe minute in die mikrogolfoond te bak.

En dit sonder dat dit platval.

Was dit ’n goeie jaar? Ja, dit was ’n wonderlike jaar, ingekleur met geloof, hoop en liefde. 

Tot volgende jaar groet ek en die Engelsman – maar nou is ons wens vir julle ’n kerskous gevul met hartsdrome, liefde in oorvloed en waardering vir die klein dingetjies in die lewe. 

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

Exit mobile version