Local newsNews

Balmoral se spoke is beslis baie besig meen kenners

Wat ander aflag as wolhaarstories, laat sommiges se hare rys. Die bewyse is daar, op die plaas Eenzaamheid dwaal daar spoke rond.

“Die bewyse is op die tafel dat dit wel in Balmoral spook.” Dié stelling kom nadat kenners van Phoenix Paranormal South Africa ondersoek gaan instel het.

Hulle het ’n video saamgestel waarin hulle al hul bewyse saamgevat het en sê dit spook in Balmoral.

Die span het 12 ure lank op die plaas Eenzaamheid rondgestap om bewyse in te samel oor Balmoral se spoke.

Mnr. Arno du Toit van Phoenix Paranormal South Africa het gesê hulle het genoeg bewyse om te bewys spoke loop rond by die murasie by die ou veldhospitaal en die ou ‘koshuis’ agter die uitkykpunt op die heuwel.

SIEN DIE VIDEO HIER:

“As jy die trauma vat en saamvoeg met al die onvertelde hartseer en seer, dan het jy die perfekte kookpot vir siele wat uitroep en net wag om gehoor te word,” het Arno gesê.

Die span onder leiding van Arno het na die uitstappie op 30 Oktober met opgewonde ‘spookvangers’ teruggegaan om bewyse van Balmoral se spoke bymekaar te maak.

Hulle eerste stop was die ou veldhospitaal waarvan net drie mure nog staan.

“Die ongemerkte kindergraffies wat al skoongewas is deur 126 seisoene se reën, vertel elkeen sy eie hartseer verhaal,” het Arno gesê.

Geskiedenis vertel dat 11 kinders gedurende die oorlog in ’n brand by die veldhospitaal dood is.

By die veldhospitaal het die span deur middel van moderne elektroniese stemverskynsels (electronic voice phenomena) ’n vrouestem opgeneem.

Die liggies op die apparate het ook heeltyd opgeflikker.

Een van die spanlede, Stefan Gouws het ’n persoonlike ondervinding gehad toe sy wind uitgeslaan is deur iets; dit het Stefan heeltemal ontsenu!

Hulle het ook duidelike voetstappe gehoor.

’n Familie-begraafplaas was hulle volgende stop.

“Hier het ons so nege ongemerkte grafte gekry,” het Arno gesê.

Vandaar is die span na die uitkykpunt waar Arno, Hennie van Niekerk en Warren Dawson die ou koshuis gekry het.

Die woord wat Arno gebruik het om die ou koshuis te beskryf, is ‘onheilspellend’.

In die video-opnames sê die spanlede heeltyd iets is nie reg nie.

“n Deurdringende gromgeluid was heeltyd in die agtergrond. Skielik het ’n lang donker figuur op ons afgestorm. Ons het net daar besluit om op te pak,” het Arno gesê.

Op die plaas Eenzaamheid waar die begraafplaas, ou veldhospitaal en koshuis is, sak die son helderrooi in die laatmiddag.

Wanneer die nag se donker arms die plaas omhels en koester tot dagbreek toe, gebeur daar volgens inwoners ‘snaakse’ goed op die plaas.

“Ons is binnekort terug,” het Arno gesê.

“Hierdie keer kom ons meer gereed, want op Balmoral spook dit beslis.”

Phoenix Paranormal South Africa is in 2015 gestig en die span het al talle besoeke aan bekende spookhuise en hospitale afgelê.

 

LEES DIE VORIGE BERIG HIER:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/202869/balmoral-se-spookstories-word-ondersoek/?fbclid=IwAR10-

Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

 
Back to top button