Boo, bestaan spoke rêrig?

Elke dorp en stad het maar sy ‘spoke’. Party ‘spoke’ jaag jou net heeltemal op hol.

’n Bobaas spookstorieverteller het eendag vir my gesê as jy ’n spookstorie of riller kyk en jy vat die musiek weg, is dit nie so erg nie.

Ek het nie agtergrondmusiek nodig om my bang te maak nie, ek is ’n selferkende bangbroek. Ek sien kans vir moord en doodslag en die munisipaliteit met al sy intriges, maar spoke – aikona!

Die Engelsman daarenteen kyk gereeld spookstories en het al gesê hy sal daarvan hou om op een van die spook-soek-ekspedisies te gaan.

So gesê, so gedaan. Toe die geleentheid hom voordoen, is ek, hy en die kuiken af Balmoral toe waar daar oor die naweek ’n ‘ghost-hunt’ gereël is.

Balmoral se storiekas is immers vol legendes en spookstories. Van die begraafplaas wat sy eie hartseer stories vertel van jong kinders wat dood is, tot die ou veldhospitaal waar die siekes dood is aan ingewandskoors en masels volgens die geskiedenisboeke.

Minstens 400 vrouens en kinders het in die konsentrasiekamp in Balmoral gesterf.

As daar spoke wandel, is dit dan seersekerlik besiger as Geduld-brug op ’n Vrydagmiddag.

Ek moes vinnig op my voete dink en het gesê net twee kaartjies is beskikbaar en ek sal terugstaan en hulle die kans gun om dit mee te maak.

Ek het maar my skootrekenaar ingepak en myself in die restaurant tuisgemaak en verlore werk ingehaal.

Almal het spook-soek-toeps afgelaai op hul selfone en is vort.

So bly net ek en die kroegman oor.

Met ’n swaar aksent begin dié toe vir my vertel dat hy ook soms dinge voel en ook hoor.

Die rillings so langs my skouer af het in hoofletters uitgeskree alles is nie pluis nie.

Die maan het so op ’n skrefie vir ons deur die venster geloer en iewers het ’n jakkals getjank.

My gedagtes het oortyd begin werk soos die kroegman sy stories verder ingekleur en my nekhare laat rys het.

Of jy regtig met spoke kan kommunikeer, is iets wat ek nie wil meemaak nie. Dié bobaas spookstorieverteller kroegman het my genoeg vertel en agtergrondmusiek was nie eers nodig nie.

Met die terugry kon die Engelsman en ons kuiken nie ophou praat van hulle ondervinding nie.

Later met ’n glasie in die hand waarin die ‘eish’ rinkel seg die Engelsman so ewe, hy is seker Balmoral se spoke se ‘boo’ is weggeskrik na al die vreemdelinge wat die naweek vir hulle gaan kuier het.

Die naaste wat ek aan spoke wil kom, is die spookasem wat ek by die kerkbasaar koop.

Wil jy graag jou spookstorie met ons deel?

Epos ons op info@witbanknews.co.za, of telefoon 013 656 2490.

Jy is ook welkom om ons op ons sosiale media platforms te volg:

InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

Exit mobile version