News

Balmoral se spookstories word ondersoek

Die hartseer van Balmoral se konsentrasiekamp word woordeloos deur die talle grafte by Balmoral se begraafplaas vertel.

Balmoral is ryk aan geskiedenis en ook natuurlik spookstories.

Om ’n knetterende braaivleisvuur is die dorpie se spoke seker die onderwerp waaroor die meeste gesels word.

As daar gekyk word na die geskiedenis is Balmoral sinoniem met die Anglo Boereoorlog en die Britse konsentrasiekampwetgewing van die 1900’s.

Balmoral se begraafplaas is nie die plek waar jy na donker alleen wil wees nie.

Ongeveer 400 mense het binne net een jaar in die Balmoral konsentrasiekamp gesterf en die hartseer is vasgevang tussen die rye grafte en die onvertelde stories by die ou veldhospitaal.

“Hierdie hartseer geskiedenis is juis hoekom daar soveel spookstories rondloop. Inwoners kan jou stories vertel wat jou nekhare sal laat rys,” het mnr. Rodney McCulloch, bestuurder van Sergeant Pepper Restaurant , wat neffens die begraafplaas geleë is, gesê.

Rodney het vertel dat hyself al ’n ondervinding of twee gehad het, maar kon nie verseker sê of dit een van Balmoral se spoke was wat kom inloer het nie.

Daar is die saadjie om Balmoral se spoke te gaan soek, geplant en hy het Phoenix Paranormal South Africa se hulp ingeroep.

Met die regte apparate en toeps is daar noukeurig geluister na vreemde geluide.

Sondagaand 30 Oktober het die windjie yskoud oor die plaas Eenzaamheid op Balmoral gedans.

Die maan het verdwyn en toe die nag soos ’n donker kombers op die sowat 60 ‘spookjagters’ toesak het die aksie begin.

Toeps is afgelaai, koplampe en flitse aangesit en drie groepe het maar skrikkerig die ‘onbekende’ genader.

Na sowat drie ure het die groepe teruggekeer, foto’s, video’s en opnames is gedeel.

Van die meer skeptiese ‘spookjagters’ het rasionele redes aangevoer vir van die ‘geluide’ wat hulle gehoor het.

Die ander het meegevoer geraak en vertel van sagte aanrakings op hul skouers, een het vertel dat hy duidelik ’n vrou se stem by een van die grafte gehoor het.

Die ou murasies op die plaas Eenzaamheid is die ideale plek om spoke te gaan ‘soek’.

Mnr. Arno du Toit van Phoenix Paranormal South Africa het gesê hulle het na die ‘spookjagters’ huistoe is, voortgegaan met hulle ondersoek.

“Ons het baie materiaal waardeur ons moet werk, en sodra ons alles deurgegaan het sal ons kan sê of dit wel op Balmoral spook al dan nie.”

Balmoral staan nie terug vir Suid Afrika se spookstories nie. En sodra Phoenix Paranormal South Africa se nabetragting gereed is sal ons vir seker kan sê of dit op Balmoral spook.

Het jy ’n storie om te deel, dan kontak ons gerus: Telefoon: 013 656 2490 of Epos: info@witbanknews.co.za

of volg ons op sosiale media platforms:  InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 
Back to top button