Moedersmelk maak van jou ’n sterk baba

Die vraag is ... sal jy in die openbaar borsvoed met of sonder ’n lappie?

Hierdie week mag ek dalkies net ’n kontroversiële debat begin. Hoe dit gaan eindig, weet ek altoos nie, maar wat ek wel weet, ek is baie verskillende opinies te wagte omdat ek letterlik die tepels aan beide kante gaan druk.

Ek en my oudste kuiken sit oor die naweek by ’n openbare plek toe ’n mamma haar bors uithaal en haar kleinding in die openbaar melk gee nadat dié keel opgesit het.

Verontwaardig was nie die woord nie, ek was sprakeloos en my kuiken bloedrooi in sy gesig.

Hy het iets gemompel wat klink soos ‘waarheen gaan die wêreld,’ met ’n paar gevleuelde woorde tussenin en weggekyk.

Ek is ’n voorstander van borsvoeding, maar dit moet met diskresie in openbare plekke gedoen word.

Dit is ’n feit dat die gesondheidsektor mammas aanmoedig om hulle babas te borsvoed.

Die wet op basiese diensvoorwaardes maak ook voorsiening dat mammas ’n paar minute ekstra kan kry om hulle babas te gaan borsvoed.

Maar met die staatswette en dies meer wat mammas en babas beskerm, kom dit tog neer op mamma se keuse om te borsvoed ten aanskoue van my bloedrooi kuiken of dit diskreet te doen met ’n mooi lappie oor die skouer.

Een mamma het al gesê sy eet nie in die toilet nie, hoekom moet haar baba dan in ’n badkamer gevoed word?

Die vraag is wanneer het borsvoeding in die openbaar, sonder diskresie bygesê, sosiaal aanvaarbaar geword?

My persoonlike mening is dat mamma ook diegene rondom haar in ag moet neem alvorens sy haar baba se ‘middagete’ voor almal uitpluk.

Daar is geen wet wat ’n mamma verhoed om haar baba te borsvoed nie. Maar, daar is diegene wat ’n vrou se bors nie as ’n voedingsmiddel sien nie, maar iets meer daarin lees.

Soos altyd is die Engelsman baie ‘taktvol’ terwyl hy sy ‘eish’ tydsaam by sy ‘moedersmelk’ gooi.

“Meat is meat and man must eat. Milk is milk and baby must feed,” seg hy en noem toe sommer aan my steeds rooi-in-die gesig kuiken dat dié ook ’n borsvoed-baba was.

Het ons die kuiken die res van die naweek gesien? Nee, want dié kan nie oor die feit kom dat borsmelk hom die sterk gesonde man gemaak het wat hy vandag is nie.

 

 

Deel jou nuusbrokkies met ons per Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Exit mobile version