Local newsNews

eMalahleni is nou stil vandat die twee seekoeie hervestig is

Vir ses maande het die seekoeie, Jumbo en Jakkie, gesorg vir opwinding om die Steenkoolstad. Maar, vir hulle eie veiligheid is hulle nou geskuif na ’n wildsplaas waar hulle sonder enige steuring kan bly.

Jakkie en Jumbo, die twee seekoeie wat diep in inwoners van eMalahleni se harte getrap het, het ’n nuwe tuiste gevind.

Dié twee is veilig op ’n wildsplaas naby Brits.

Die afgelope ses maande het dié paartjie gesorg vir opwinding en WITBANK NUUS-lesers het al die hoofopskrifte gevolg na die twee se manewales.

Mnr. Piet Wassenaar, wat ’n permit het van die Mpumalanga Parkeraad om met ‘moeilike’ diere te werk, het ’n spesiale band met die twee stouterds ontwikkel nadat hy hulle ‘ontmoet’ het toe hulle in April vanjaar hul intrek geneem het op mnr. Jumbo van der Merwe, ’n boer op die Zaaihoekpad, se plaasdam.

“Die twee ongewone besoekers het dadelik my hart gesteel toe ek hulle die eerste keer gewaar het. Hulle het eenkeer vir my gekoekeloer en onder die water verdwyn en die hele dag vir my weggekruip,” het Piet vertel.

Hy het dadelik die Mpumalanga Parkeraad in kennis gestel van die twee ‘plakkers’ en is gevra om hulle te monitor.

“Op die stadium het ons verwag dat hulle net ’n klein rukkie in ons area gaan kuier en dan terug sal beweeg na Loskop, wat die naaste plek aan ons is waar seekoeie voorkom. Min het ek geweet dat Jumbo en Jackie besluit het dis lekker in Oom Jumbo en Tannie Jakkie se dam. Vir die volgende ses maande het hulle deel van my en my dogter, Chantelle, se lewe geword.’

In die begin het die twee hulself skaars gehou, so 150m van die wal af, en net so dan en wan oë gewys.

Die laaste ruk het hulle Piet en Chantelle se stemme herken en nader gekom.

Hulle was eers baie ‘skaam’.

Jumbo en Jakkie het ’n week in Oom Jumbo se dam gebly en in die aand al te lekker op sy kikoejoegras gaan wei.

Die laaste aand van hulle eerste besoek daar het hulle Oom Jumbo se groentetuin ontdek, daar het nie veel oorgebly nie.

Seker omdat hulle geweet het hulle het kwaad gedoen het hulle getrek, na twee damme op die Verenapad net ’n entjie van Pine Ridge af.

Omdat hulle snags wei, was dit baie gevaarlik vir die gemeenskap in die omliggende area, veral vir iemand wat in die nag rondloop, aangesien seekoeie nie hier verwag word nie.

’n Uitgegroeide bul soos Jumbo kan die skaal op 3 ton trek en Jakkie 2.5 ton, dus keer ’n gewone plaasdraad hulle nie.

Die gemeenskap rondom die twee damme het gou moeg geraak om hulle drade kort-kort reg te maak en het ook beweer die twee seekoeie vreet hulle mielies op die lande.

Dit was volgens Piet nie waar nie, “Die mielies op die lande was klaar droog en hulle kon my nie een plek wys waar daar van die mielies gevreet was nie. Die twee het wel as hulle in die aand wei op soek na gras van die mielies platgetrap. Nietemin het die gemeenskap gedreig om hulle te skiet en ook gate te grou met skerp penne daarin sodat hulle daarin kan val.”

Daar is toe op 17 Mei besluit om hulle te probeer verdoof en te skuif.

Die parkeraad het hulle boot van Loskop af gebring, maar dinge het heelwat anders uitgedraai as wat daar verwag is.

“Die probleem om hulle in die water te verdoof is dat hulle koppe bo die water gehou moet word anders verdrink hulle. Hulle moet ook wegkyk van jou af anders skiet jy hulle dalk in die oog. Elke keer as die boot nader kom het Jumbo en Jakkie vir die boot bly kyk en as die boot te naby kom het hulle geduik en so 100m verder weer opgekom.”

Na die sesde probeerslag het Jumbo moeg geraak vir die speletjie en ’n gat in die boot gebyt het.

Die aand het die twee weer getrek. Dié keer so 10km verder op die Verenapad waar hulle vir die volgende week tussen drie plaasdamme rondbeweeg het.

“Ons was bly, want dit het gelyk asof hulle terug begin beweeg in die rigting van Loskop, net om die volgende oomblik weer hulle verskyning te maak in die dam waar ons hulle probeer verdoof het en kort daarna weer in Oom Jumbo se dam.”

Weereens is die swartbord nader getrek en na verskillende opsies gekyk om die twee te vang.

Die idee om hulle vanuit die lug met ’n hommeltuig te verdoof was ook op die tafel gesit, maar weereens was die probleem om hulle koppe bo die water te hou.

As ’n poging sou aangewend word om hulle in die nag te verdoof terwyl hulle wei, het die moontlikheid ontstaan dat hulle sou terug hardloop in die dam in.

Dit was asof Jumbo en Jakkie snuf in die neus gekry het, en hulle het hasepad gekies na ’n klein dammetjie op die Kalbasfontein-plotte.

 “Een oggend net na een kry ek ’n oproep van ’n benoude persoon wat sê dat die twee by Jackaroo tussen die huise is. Daar aangekom het lede van die buurtwag my gehelp en met die hulp van ’n hommeltuig spoor ons hulle op, langs die treinspoor op ’n plot. Ons jaag hulle toe terug oor die spoor. Ek sê ‘jaag’, maar mens jaag nie ’n seekoei soos ’n bees nie. Hy gaan gewoonlik waar hy wil, al wat jy kan doen is om in die teenoorgestelde rigting as wat jy wil hê hy moet gaan van ’n veilige afstand af  ’n groot lawaai te maak en ligte te skyn en te hoop hulle beweeg in die rigting wat jy wil hê hulle moet.”

Die twee het sekerlik gedink Jackaroo is té lawaaierig en hulle is terug oor die spoor.

Piet het tot by die spooroorgang gesoek en ’n man op ’n klein motorfietsie raakgeloop.

Hy het grootoog vertel van twee groot varke wat hy nou net in die pad voor hom gekry het.

Hy blaas toe vir hulle toeter waar hulle volgens hom mooi netjies uit die pad uit gegaan het sodat hy verby kan gaan.

Die son het skaars begin glimlag toe is Piet al weer op hulle spoor.

Hy het hulle weer in die klein dammetjie by Kalbasfontein gekry.

Van daar af is hulle in die Groot Olifantsrivier in, waar hulle van die Kromdraaiplotte op die ou-Middelburgpad op in die rivier is, verby die Seekoeiwaterplotte deur Doringpoortdam, deur Witbankdam, tot groot ontsteltenis van hengelaars en motorboot eienaars, tot naby Ga-Nala.

Toe weer dieselfde roete terug tot by die Kromdraaiplotte, toe weer rivier op weer verby Witbankdam op met ’n sytak van die Olifantsrivier tot net onder Rietspruitdam, toe weer terug tot by die Kromdraaiplotte.

In die tyd is hulle op verskeie myngronde opgemerk wat veiligheidsoffisiere baie benoud gehad het.

Hierdie uitstappie in die Olifantsrivier het lank geduur.

Wat dit moeilik gemaak het met die twee in die rivier is dat hulle omtrent elke aand geskuif het.

Hulle het deur die dag weggekruip en geslaap en gewoonlik in die agtermiddag rondgeswem en as iemand hulle dalk sien is dit reeds donker dan gaan wei hulle deur die aand en skuif na ’n volgende area in die rivier.

“In die tyd is die besluit deur die parkeraad geneem dat sodra hulle weer in ’n kleiner dam gaan ingaan ons ’n tydelike elektriese heining om die dam gaan span om hulle te probeer binne hou.”

Op 29 Augustus is die twee weer in Oom Jumbo se dam opgemerk waar hulle rustig baljaar het.

Die volgende dag het Ertjies Rohm en sy span van parkeraad van Nelspruit af gekom en ’n elektriese heining van ongeveer 1km is om die dam gespan.

Die twee word toe bederf met heerlike lusern.

Lusern op die spyskaart vir Jakkie en Jumbo.

Op 6 September word daar ’n boma tussen die heining en die dam gebou en begin die proses om hulle stelselmatig in die boma in te lok.

“In die oggend kyk ek of die heinings nog reg is terwyl my dogter op die kamera kyk hoe laat hulle by die boma was en hoe vêr hulle inbeweeg het. In die agtermiddag doen ons weer inspeksie van die heining en sit voer uit binne die boma. Die aand 11 September het Jumbo heeltemal in die boma ingegaan, maar Jakkie was nog skrikkerig.”

Twee dae later het albei die boma ingegaan en drie bale lusern verorber.

“Die boma-projek werk soos ’n wip waarmee mens voëltjies vang, net natuurlik op ’n baie groter skaal. So plus minus 100m van die boma af, wat met ’n valdeur werk, het ons ’n skuiling gebou vanwaar daar ’n tou loop na die boma toe. Sodra hulle in die boma is trek jy ’n tou en die boma se deur val toe. In die skuiling het ons ’n skerm waarop ons hulle dopgehou het,” het Piet verduidelik.

Die boma.

Op 15 September nadat hulle vir twee aande agtermekaar heeltemal in die boma ingegaan het, is daar besluit om hulle te vang.

“Net voor sonsondergaan is ons in plek en net voor 23:00 stap Jumbo die boma in. Jakkie is baie onrustig, maar stap wel in die boma in, maar bly naby die deur. Dit was glad nie veilig om toe te maak nie. Volgens die ouens van parkeraad sal ’n seekoei nooit weer in ’n boma ingaan as hy eers eenkeer geskrik het nie, dus moes ons seker maak dat hulle mooi in is voor ons die valdeur laat val.”

Jumbo het dadelik weggeval en heerlik gevreet en toe hy knuppeldik gevreet is toe tap hy rustig uit die boma uit met Jakkie kort op sy hakke.

Net so voor 04:00 die oggend het Jakkie in die boma ingeloer , omgedraai en weggestap.

Beide Jumbo en Jakkie smul aan die lusern wat in die boma uitgesit is.

Teleurstellend na ’n lang nag waar die muskiete die span ‘opgeëet’ het is die span terug Nelspruit toe.

Vir die volgende drie aande voer Piet weer en altwee gaan heeltemal in die boma in.

“Maandagaand 19 September probeer ons weer. Teen sononder is ons in plek, maar die weer steek op en dit begin sag reën. Die span van parkeraad het weer nie veel hoop op sukses nie, aangesien hulle uit ondervinding weet dat seekoeie in die water bly as blitse slaan, maar hierdie twee Witbank-seekoeie bewys hulle toe verkeerd. Om 19:40 het dit opgehou reën en is altwee in die boma lekker besig om lusern te eet. Ons trek die tou die deur val toe. Sukses, altwee is in die boma!”

Toe moes die twee gelaai word.

So is die twee seekoeie vervoer.

Eers het Dr Gunter Nowak, parkeraad se veearts, hulle verdoof met ’n kalmeermiddel.

Met die bou van die boma het Genet Mineral Processing met een van hulle masjiene gehelp om ’n sloot te grou waar die trok kon inry tot teen die agterdeur van die boma sodat die twee gelaai kan word.

Met die trok in plek is die agterdeur van die boma oopgemaak en kon die laai-proses voortgaan.

Maar, dit is nie net van ‘hierlangs stap maar’ nie.

Jumbo en Jakkie moes met ’n lang stok met ’n vlaggie aan geterg word en wanneer hulle storm hardloop hulle in die spesiaal versterkte wildvervoer trok in.

Hierdie slag was Jakkie eerste, sy het die vlaggie gestorm in die trok in en die deur is agter haar toegemaak.

Die trok het verskillende kompartemente en sy is in die voorste kompartement toegemaak.

Nou was dit Jumbo se beurt, maar hy wou nie mooi saamwerk nie.

SIEN DIE VIDEO HIER: 

 

Hy het eers die boma met ’n vreeslike slag gestamp toe op sy agterpote gestaan en bo-oor die boma vir die span geloer, toe weer die valdeur gestorm, maar uiteindelik het hy ook geklim en was die twee veilig op pad na hulle nuwe tuiste.

Jumbo was nie gelukkig met die stand van sake nie.

“Ek is oor die tydperk ’n paar maal gevra hoekom ons hulle wil skuif en of hulle nie maar in die omgewing kan bly nie. Daar was selfs opmerkings na koerantberigte van mense wat gesê het “los ons seekoeie uit”. Ons het dit gedoen vir die seekoeie se eie veiligheid. Omdat hulle nie natuurlik in ons area voorkom nie en hulle so baie rondgeloop het was dit net ’n kwessie van tyd voor iemand dalk kon seerkry of hulle in die nag voor ’n voertuig inloop en ’n groot ongeluk veroorsaak. Of in Witbankdam waar daar in die somer baie watersport-aktiwiteite aangaan, weer ’n boot aanval, waarna hulle dan van kant gemaak sou moes word. Dus was om hulle hier te los glad nie ’n opsie nie en is hulle nou in ‘n veilige area waar hulle die res van hulle lewe kan bly.”

Piet het gesê hy weet nie wat om nou met sy tyd te doen nie, want die twee het hom besig gehou.

Hy het afgesluit en deel die volgende bedankings uit.

  • Eerstens baie dankie aan die Mpumalanga Parkeraad, Ertjies, Gait-Jan Sterk, Chris Hobkirk, Gunter Nowak en Francois Roux. Sonder julle raad, ondersteuning en hulp sou die hele projek nie ’n sukses gewees het nie.
  • Baie dankie aan Casper Janse van Rensburg van Midwit Diesel en Olie wat die lusern geborg het, gehelp het met brandstof, bygedra het met die elektriese heining en ook met sy helikopter gehelp het om met tye die seekoeie te soek.
  • Louis Botha en Johan Cowen van Genet Mineral Processing vir hulle hulp met die grou van die slote.
  • Dankie aan Leonard Visser van ARPSOL wat ’n paar keer kom help het as ons probleme ondervind het met die elektriese heining en die solarstelsel.

“Dan besondere dank aan Oom Jumbo en Tannie Jakkie wat vir so lank vir die twee seekoeie ‘behuising’ gegee het in hulle dam en hulle trekker beskikbaar gestel het om bane oop te sny sodat ons die elektriese heining kon span en ook van hulle werkers beskikbaar gestel het om te help.”

Baie voorbereiding is gedoen alvorens Jumbo en Jakkie gevang is.

“Dan aan al die mense wat oor die ses maande my op hoogte gehou het van die beweging van die seekoeie, daar is teveel om te noem. Sonder julle sou ons baie maal nie geweet het waar die seekoeie hulle bevind nie en sou dit ons werk baie moeiliker gemaak het. Hierdie was ’n goeie span poging met ’n goeie einde, weereens ’n bewys wat kan gedoen word as mense saamwerk.”

Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 Epos: info@witbanknews.co.za

Of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button