Local newsNews

Jakkie en Jumbo is terug op Oom Jumbo se plaas – en hulle wil aansit vir ete

Die twee ‘verkenners’ is terug na ’n uitstappie wat hulle tot so ver as Rietspruit geneem het. Nou is hulle terug op Jumbo se plaas en baie honger.

Die twee wandelende seekoeie het besluit oos wes tuis bes.

Hulle het weer op Jumbo van der Merwe se plaas op die Zaaihoekpad opgedaag na ’n Vader Cloete rondte wat hulle langs die ou-Middelburgpad tot naby Rietspruitdam gevat het.

Dié keer het mnr. Piet Wassenaar gesê gaan die twee nie weer so maklik wegloop nie.

Die heining is een oplossing om die twee seekoeie, Jakkie en Jumbo in die dam te hou.

Piet, wat ’n permit van die Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap het om enige probleemdiere te verwyder, het gesê daar is nou ’n elektriese heining om die dam gespan om die twee binne te hou.

Die volgende stap is om ’n boma te bou, hulle in te lok en dan na ’n veiliger plek te vervoer.

“Daar is heelwat wildsplase wat aansoek gedoen het vir permitte om seekoeie aan te hou, dus sal daar binnekort vir Jakkie en Jumbo  ’n nuwe tuiste geskep word,” het Piet gesê.

Vir nou maak die twee wat op 13 April op Jumbo se plaas opgedaag het, weer van sy gasvryheid gebruik.

“Die twee was nie eers 40 meter van my voordeur af nie. Een van my plaaswerkers het hom asvaal geskrik toe hy op die seekoeie afkom wat eers lekker in die kikoejoegras gewei en toe rustig afgewandel het dam toe,” het Jumbo vertel.

Die twee moet natuurlik ook gevoer word en Jumbo het gevra as daar enige persoon is wat lusern-bale kan skenk om die twee mooi rond en gesond te hou, hulle Piet kan bel op 082 870 4124.

Jakkie en Jumbo verorber sowat vier tot vyf bale lusern per nag.

Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 of epos: info@witbanknews.co.za

Of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button