Local newsMunicipalNews

Stoorplek in Tasbetpark ‘lek’ weg, terwyl waterrekening nog nulle bykry

Die probleem raak groter en groter by die dag en benadeel baie mense.

’n Plaaslike stoor besigheid is op die punt van waansin oor die alledaagse probleem van swak of geen dienslewering van die munisipaliteit.

Op 5 April het ’n pyp op die grond van die store in Tasbetpark gebars, in só mate dat die water meters hoog die lug ingespuit het.

“Ons het 03:00 daardie oggend die hoofwatertoevoer gaan afsit sodat daar nie nog water mors nie en om te wag vir die munisipaliteit om die probleem te kom regmaak,” het me. Salomie van Noordwyk vertel.

Op 7 April het die munisipale-span uiteindelik opgedaag en die probleem geadresseer net om die res van die werk aan die ‘tweede span’ werkers te laat.

“Hulle het die gebarste pyp uitgehaal en vervang, maar met dit het hul ook die dreinpyp verwyder en net daar gelos. Hulle het aan my gesê dat hul werk gedoen is en dat die tweede span nou verder sal aangaan. Maar die tweede span het nooit opgedaag nie,” het sy verder vertel.

Op 14 Julie het Van Noordwyk na WITBANK NUUS uitgereik om dalk iets na drie maande uitgerig te kry nadat dit telkemale aan die relevante rolspelers gerapporteer is.

“Die eerste probleem is toe nooit uitgesorteer nie en het dit op die ou einde net meer probleme gelaat. Daar is ’n pyplek onder die grond, ons besigheid wat net water gebruik vir die badkamers se rekening beloop tot R5 000 ’n maand en dit word gerapporteer…,” het sy moedeloos bygelas.

Die water maak die grond onder die store, asook die oprit van die besigheid sag en maak dat die grond wegsak.

“Die probleem raak groter en groter by die dag en benadeel ons op so baie maniere. Wat as een van die kliënte eendag by die besigheid inry en die kar sak in die grond in. Dit is dan op ons, die skade is op ons,” het sy gesê.

WITBANK NUUS het hierdie probleem ook gerapporteer aan die munisipaliteit, maar ongelukkig geen terugvoer voor druktyd ontvang van die woordvoerder, mnr. Lebo Mofokeng nie.

“Ek raak skoon moedeloos as ek die woord ‘rapporteer’ hoor. Want vir drie maande is dit ál terugvoer wat ek al ontvang het,” het Van Noordwyk ten slotte gesê


Back to top button