Local newsNews

Gasbottel diefstal – epidemie soos beurtkrag

Die diewe het blykbaar toegang verkry deur die elektroniese hek van die kompleks.

Met beurtkrag wat eMalahleni meer as een of twee keer ’n dag in die donker laat, skiet diefstal van gasbottels die afgelope maand hemelshoog op.

Op 16 Julie het die Du Plessis-gesin deurgeloop toe diewe heel gemaklik deur die loop van die dag in die erf ingekom en hul gasbottel weggedra het.

“Ek het dit nie dadelik agtergekom nie, ek meen dis die laaste ding in jou gedagtes as jy vir ’n feit weet jou gasbottel is opgesluit en uit die oog,” het me. Sandré du Plessis vertel.

Die diewe het blykbaar toegang verkry deur die elektroniese hek van die kompleks van die spore af te haal en oor hul muur gespring. Die gasbottel is in ’n ysterkas weggebêre, agter slot en grendel.

“Ek het die aand met beurtkrag my gasstoof se plaat probeer aansteek, maar met geen sukses nie. Ek het my man geroep en nog ewe vir hom gese ek dink die gas is klaar. Hy het my verseker dat die gas nie kan klaar wees nie, tensy daar ’n lek iewers is,” het sy bygelas.

Haar man is buitentoe om inspeksie te gaan doen toe hy afkom op die ysterkas wat ewe toegemaak is, gebreekte slot en al.

“Dis toe ons eers besef diewe was weer doenig in ons buurt en my gasbottel skoonveld,” het sy bygelas.

Daar is beslis ’n toename in dié soort misdaad en meen die gesin dat dit op die ou einde net skade vir hul is.

“Hierdie is nie die eerste keer nie. Die eerste keer was my gasbottel ook in ’n kas opgesluit, maar die diewe het letterlik die houtkas oopgekap en die gasbottel gesteel. Ons het probeer om beter sekuriteitsmaatreëls te implementeer, maar lyk my dit het ook nie gewerk nie,” het Du Plessis ten slotte gesê.


Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: info@witbanknews.co.za

Of volg ons op sosiale media platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 
Back to top button