Na 50 jaar gee Dirk steeds wolwefluite as hy Lida sien

Die liefde blom nog steeds vir Dirk en Lida.

Vyftig jaar terug het Dirk Posthumus vir ’n pragtige brunet rabbedoe ’n lang wolwefluit gegee wat haar sommer daar op die daad woedend gemaak het.

Sy was so kwaad dat sy dadelik by haar sussie en swaer wou intrek toe sy agterkom hulle nuwe bure is Mnr. Wolwefluit en sy familie.

Vandag sê me. Lida Posthumus (67) gee haar wederhelfte Dirk (71) nog steeds na 50 jaar van getroude lewe vir haar wolwefluite en vergeet nooit ’n verjaarsdag, kersfees of Valentynsdag nie.

Saam met die wolwefluite kom daar nou arms vol blomme.

Lida, wat ook bekend is vir haar jarelange betrokkenheid by die Vroue Landbou-unie het vertel hoe haar ouers vroeg in 1968 na Peace Haven in Vereeniging getrek het.

“Bles Bridges hulle het sowat vyf huise van ons afgebly. Bles se broer was darem nou maar vir jou n mooi man. Ons het geswymel as hy in die nabyheid was,” het Lida vertel.

Lida se ma het ’n laatlammetjie gehad en boetie Paul se hare was baie lank.

Hy het eendag na die draad se kant toe gewaggel met Lida agterna om ’n oog te hou. Dirk was ook by die draad en vra toe, “Is dit jou sussie?”

Terwyl Lida haar bloedig vererg en verduidelik dat Paul eintlik ’n seuntjie is toe vang Dirk haar weer onkant en vra “wat sê jou outoppie daarvan?”

“Mensig ek was verby kookpunt en het die man net daar op sy plek gesit en gesê jy praat nie so van my pa nie,” het Lida gesê, omgedraai na Dirk toe en gesê, “Onthou jy lief?’

Dirk het destyds ’n 250 Suzuki gery en dié motorfiets het tot Lida se redding gekom toe sy eendag laat was vir ’n geskiedenistoets en die bus lankal gery het.

“Ek het die gebrul van die motorfiets gehoor, na buite gestorm, Dirk in die pad gestop en gevra om my skool toe te vat. Hy wou nog teëstribbel toe is ek op die motorfiets, skoolrok en al. Ek het darem skuins gesit,” het Lida met ’n stoute laggie vertel.

 

Dirk het vertel dat Lida se pa erg oor snoeker was en hy moes vinnig leer om te speel, “Ek moes snoeker leer speel en my skoonpa laat wen om haar te kry.”

Een ding wat almal wat haar ken van Lida weet is dat sy alles in die lewe met oorgawe aanpak.

So het sy besluit sy wil leer om die Suzuki te ry.

“Dirk het my in ’n parkie laat ry. My skoonma het amper ’n hartaanval gekry. Ek kannie onthou wat verkeerd gegaan het nie, maar skielik toe vang die motorfiets spoed en die parkie het nie genoeg spasie oor nie. Daar vlieg ek oor die pad binne in my sus se erf in en stop millimeters van die garage af. Gelukkig was die hek oop. Ek onthou so goed hoe Dirk agter my aanhardloop en tussen die warboel hoor ek net briek, briek, briek!”

Lida was 16 jaar oud toe Dirk haar gevra het om te trou en 17 toe die nuwe  trouring aan haar ringvinger geskitter het.

“Ek was nie meer lus vir skool nie en het vir my ouers, die hoof en onderhoof gesê ek gaan werk en vinnig trou. Dit was die beste besluit wat ek ooit gemaak het, want die man en sy wolwefluit maak my gelukkigste vrou op aarde.”

Dirk en Lida het twee kinders, Melinda en Dirk en twee kleindogters.

Hulle geheim vir ’n suksesvolle huwelik kom jy sommer dadelik agter. Die paartjie het wedersydse respek vir mekaar, gesels oor alles en stem saam alles gaan oor genade.

“Liefde en genade is die belangrikste. Jy moet ook elke dag bid en God bedank vir wat jy het…”

Deel jou opinie met ons op:

WhatsApp: 060 866 8682

Email: info@witbanknews.co.za

Of op ons sosiale platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version