Waggies se adjunkhoof groet na 34 jaar

Mnr. Naas Ferreira se kennis en passie vir rugby het ’n voetspoor vir talle jong rugbyspeler gelaat.

Eenkeer ’n Waggie, altyd ’n Waggie.

Dis weereens bewys toe mnr. Naas Ferreira, Laerskool Onverwacht se onderhoof, na 40 jaar en nege maande afgetree het. In hierdie tyd is 34 jaar by dié skool deurgebring.

Mnr. Ferreira het aan die einde van verlede jaar die skool finaal gegroet met die woorde: “Baie dankie aan al die Waggies vir al die jare wat julle geduldig na my ou WP grappies geluister het en dan uit ordentlikheid daarvoor gelag het. Baie dankie dat julle dit vir my aangenaam gemaak het om vir julle klas te gee, al wou ek julle soms vermoor.”

Hy het in sy kort toespraak gesê, “om ’n Waggie te wees is iets besonders wat net ’n Waggie sal verstaan.”

Mnr. Ferreira het sy onderwysopleiding in 1976 by Goudstad begin.

In 1981 het hy by Laerskool Middelburg begin skoolhou.

Dié energieke onnie het nie net voor die klas gestaan en skoolgegee nie, hy het ook destyds vir  Middelburg se eerstespan rugby gespeel. En hy was nou betrokke by skole  Cravenweek en het op hulle bestuur gedien vir baie jare.

Tussendeur die rugby het hy ook begin gholf speel.

Hy was vir baie jare Suidoos-Transvaal se  nommer een skeidsregter in skolerugby het sy beste vriend, mnr. Uile Steynberg, vertel.

“Naas het as skeidsregter in die ou Suidoos-Transvaal vinnig opgang gemaak en was vir ’n hele paar jaar in die top 10 skeidsregters. Die hoogste eer wat ’n skeidsregter te beurt kan val was ook vir Naas beskore toe hy gekies was om op die Cravenweek te blaas,” het mnr. Steynberg vertel.

Mnr. Ferreira het later op die Suidoos-Transvaal, wat later Mpumalanga geword het, laerskole rugby bestuur gedien as tesourier.

“As provinsiale keurder het hy die vermoë gehad om seuns se talente vinnig raak te sien. Verskeie van sy spanne wat hy afgerig het, het met die hoogste louere weggestap. As mentor vir die jong afrigters het hy ’n groot rol gespeel om die vuur en entoesiasme vir die spel aan te kweek en sodoende Laerskool Onverwacht se rugbystandaarde verhoog,” het mnr. Steynberg vertel.

Mnr. Ferreira se reis met Laerskool Onverwacht het in 1987 begin toe hy aangestel is as departementshoof. In 2001 het hy die leisels as adjunkhoof oorgeneem.

Knop in die keel het hy afgesluit met ’n stukkie vanuit die skool se skoollied: “Ek groet hierdie skool in die Ooste van Transvaal, Onverwacht Laer. Mag dit met julle voorspoedig en goed gaan in die jare wat voorlê.”

Op die rugbyvelde weerklink mnr. Ferreira se raad nog en in menige jong rugbyspeler se eendag-stories sal mnr. Ferreira se naam opduik as ‘die onnie wat my geleer het om rugby te speel’.

Gesels met ons

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NEWS se sosiale media platforms:

Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

 

 

Exit mobile version