Local newsNews

Die NG Kerk Merlindale vroeër die week onder die hamer

Die kerk met die ryk geskiedenis is vroeër die week opgeveil.

’n Eensame bordjie langs die Kriel/Bethal pad staan fier en regop, met die naam NG Kerk Merlindale in vetgedrukte letters daarop.

Dié bordjie wat eens die aanwysing na een van die groot kerke in die omgewing was, is nou die bordjie wat vertel dat die myngemeenskap nou stad toe getrek het. Waar praghuise eens gestaan het, is daar nou net lang gras en hier en daar ’n palmboom wat op sy tyd in ’n tuin gepronk het.

Die paadjie na die kerk is nog rybaar, want tot onlangs toe was daar nog kerkdienste gehou.

“Maar nou het water ons rug gebreek,” het me. Jenny Vermaak wat die afgelope 30 jaar die koster en saakgelastigde was, gesê.

Nadat die myndorpies en ook Vandyksdrift-stasie toegemaak het as gevolg van ekonomiese redes, het die kerkraad bekommerd geraak oor die lewensvatbaarheid van die kerk. Die kerk het op ’n stadium 1 200 gemeentelede gehad.

Nadat die pompstasie wat deur die myne onderhou was vir die soveelste keer onder diefstal deurgeloop het, is die pompstasie nie weer herstel nie en water is met waterkanne aangery na die kerk toe.

“Maar dit het op ’n punt gekom dat ons moes besluit oor die kerk se toekoms,” het Jenny gesê.

Jenny het die kerk se ryk geskiedenis gedeel.

Die kerk is op 16 November 1949 afgestig van Bethal, Middelburg en Witbank. Die kerk het begin met ’n ‘bruidskat’ van 1 000 pond.

Dié kerk se stigtingsvergadering is in ’n waenhuis op die plaas Welstand van mnr. J. N. Swart gehou omdat die hemele se sluise daardie dag oopgemaak het en ’n reuse reënbui die oorspronklike planne gekortwiek het.

Die eerste dienste was tydelik in die stoor van oom Klaas Kluitjies gehou.

Twee morge grond is kort daarna van mnr. Jan Dirk Heyns op die plaas Rietkuil gekoop en asbesgeboue is opgerig wat as pastorie en kerk gebruik is. Mnr. Heyns was toe aangestel as die eerste koster.

Die kerk se groei was fenomenaal en gou het twee gemeentes, Kriel en Blinkpan afgestig.

Soos die tyd verloop en die gemeente floreer het, is daar besluit om uit te kyk vir ’n nuwe perseel. Die kerkeiendom by Rietkuil is verkoop vir R50 000 en die kerk het na hulle nuwe perseel getrek op die plaas Enkeldebosch wat grens aan die destydse Springbok-woonbuurt.

Dié grond het aan mnr. Pieter Bezuidenhout behoort en hy het dit aan die kerk geskenk.

Op 20 Oktober 1979 is die nuwe kerkgebou van die Merlindale gemeente in gebruik geneem.

Maar tyd het sy tol geëis, lidmate het minder geword en die instandhouding van die kerk het ’n groot las geword. Die afgelope 14 jaar was daar ook nie ’n dominee wat voltyds by die kerk bedien het nie, maar daar het nie ’n Sondag verbygegaan waar die nie ’n erediens gehou is nie.

Daar is toe besluit om die kerk op te veil.

“In Haggai 2 sê die Here: ‘Skep moed en doen die werk’. Ek het so lank daaraan vasgeklou, dit is die woorde op ons hoeksteen. Ek het die woorde my eie gemaak en vir myself gesê ‘Skep moed en maak die werk klaar.’ Tussen die skaterlag onthou-oomblikke en die woordelose hartseer weet ek dat God se plan volmaak is,” het Jenny gesê.

Deel jou nuusbrokkies met ons   Telefoon: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Epos: wtbnews@mweb.co.za

Volg ons op die platforms:   InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

 

Back to top button