‘Oom Daan’ se lugtyd-slenter nou op mediese personeel gemik

Dié keer is dit ‘Oom Daan’ wat karmenaadjie gee om dankie te sê.

Die liewe omie wat al te gretig skape en dies meer skenk is al weer baie doenig.

Dié keer het ‘Oom Daan’ ’n bekende fisioterapeut in die stad gevang toe hy die fisioterapeut wou bedank omdat hy sy ma in die hospitaal gehelp het.

“Oom Daan het my ’n halwe lam en ’n agterkwart belowe en ek moes dit op ’n plaas naby Duvha gaan optel,” het die fisioterapeut gesê.

‘Oom Daan’ het vertel hy gee die vleis weg, want sy vrieskas is te vol en mens moet mos deel.

Op pad na die plaas, het die opgewonde fisioterapeut ’n oproep van ‘Oom Daan’ ontvang waar hy gevra het of dit nou baie moeite sal wees as die fisioterapeut net gou sal stop vir lugtyd.

“Op pad het die oom gebel en gevra ek moet die lugtyd ‘pin’ vir hom lees,” het die fisioterapeut vertel.

Nodeloos om te sê toe die fisioterapeut weer bel om aanwysings na die plaas te kry was ‘Oom Daan’ se foon af.

Die nuutste nommers wat ‘Oom Daan’ nou gebruik is  066 467 7538 en ook 072 481 9933.

“As dit té goed is om waar te wees, dan moet jy dubbel seker maak,” het die fisioterapeut gesê.

Hy het later die aand vertel dat sy vrou Oom Daan gebel het en vir ’n uur lank aan die gesels gehou het oor ’n skenking wat hy aan haar wou maak, “Ons het ons lugtyd wat ons vir hom deurgegee het, goed gespandeer. Oom Daan het vir my vrou ook gevra vir lugtyd en ons het vir hom die ‘pin’ nommers deurgegee wat ons die vorige dag al vir hom gegee het. Hierdie keer was ons Oom Daan een voor.”

Verskeie mense het al onder dieselfde lugtyd-slenter deurgeloop. Elke keer gebruik die man, wat homself as ’n ‘ou omie’ voorstel en selfs só klink oor die foon, dieselfde manier om lugtyd te bekom.

Selfs welsynsorganisasies is al só gevang, want wie sal dan nou nie ’n skaap of twee as geskenk wil ontvang vir jou organisasie of projek nie?

Vertel ons, het jy ook al onder dié slenter deurgeloop?  

LEES MEER:

Lugtyd-bedrieër weer doenig

Share your news tips via: Telephone: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Email: wtbnews@mweb.co.za Or follow us on WITBANK NEWS platforms: Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Exit mobile version