Polisieman helder oordag op N12 byna gekaap

Kapt. Johann Grobler het gesê hy is nie reg om doodgemaak te word nie.

’n Polisieman is in Life Cosmos Hospitaal nadat hy op die N12 deur drie rowers oorval is.

Kapt. Johann Grobler (Grobbies) het Maandag, 20 September vanuit sy hospitaalbed gesê dit gaan goed, maar dat hy woedend is oor die drie verdagtes se arrogansie.

“Ek is net gekwes,” het hy met sy kenmerkende humor gesê.

Kapt. Grobler was omstreeks 14:00 oppad terug na eMalahleni van OR Tambo lughawe af toe hy ’n skoot hoor klap en besef hy is raakgeskiet.

Toe hy stop is hy deur die drie mans oorval wat hom gedwing het om na die N4 op pad na Highveld Steel te ry.

“Op ’n stadium het die een vir die ander in Zoeloe gesê dat ek doodgemaak moet word. Die verdagtes het my polisie ID en natuurlik die maskers met die polisiewapen op gesien,” het kapt. Grobler vertel.

Die mans het hom laat stop en aangedring op geld.

“Ek het net besluit hierdie boer vrek nie maklik nie.”

Hy is drie keer in die rug gesteek en ook met ’n panga gekap.

Een van die verdagtes het sy persoonlike vuurwapen gevat. Hy het sy vuiste laat gesels en sy bakkie se sleutels teruggegryp wat die rowers gevat het.

Die polisiekaptein het kopgehou en die R300 kontant wat hy in sy sak gehad het die lug ingegooi en toe die drie makkers opkyk het hy in sy bakkie gespring.

“Ek het die bakkie in 4×4 gedruk en gery. In die harwar het ek oor een van die mans gery.”

Terwyl hy wegjaag het die verdagtes steeds op hom bly skiet.

Kapt. Grobler het ’n veilige entjie verder hulp ontbied.

Deel jou nuuswenke met ons via: 

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op: Instagram Twitter Witbank News toep Facebook page Witbank News Breaking

 

Exit mobile version