Local newsNews

Solidariteit Helpende Hand opname gee gemeenskappe ʼn stem

Ons moet dus saamwerk om gemeenskapskrag te ontsluit

Solidariteit Helpende Hand is tans besig met ʼn landwye opname onder Afrikaanse gemeenskappe om vas te stel wat hul behoeftes is, ten einde sterk, selfversorgende gemeenskappe te bou.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, verduidelik dat een van die eerste stappe in gemeenskapswerk is om gemeenskapsnavorsing te doen om die behoeftes, beskikbare hulpbronne, sterkpunte en uitdagings in ʼn gemeenskap te bepaal.

“Ons is reeds vir ʼn geruime tyd in ons verskillende streke besig om gemeenskapsnavorsing – oor die stand van ons mense en die daarstel van volhoubare strukturele oplossings – te doen. Die doel van dié navorsing is om die gemeenskapsprofiel; sterkpunte; beskikbare hulpbronne; uitdagings; en die behoefte aan opleiding, inligting en ondersteuning te bepaal,” sê Noëth.

“Wêreldwye navorsing het getoon dat lukrake projekte – sonder behoorlike navorsing oor die behoeftes van die spesifieke gemeenskap – uiters onproduktief, niksseggend en hulpbronverkwistend is. Dié opname is die eerste stap in gemeenskapswerk – om die gemeenskappe betrokke te kry en vas te stel hoe hierdie gemeenskappe verenig kan word, asook deur programme en aktiwiteite holisties ontwikkel kan word. Ons weet hoe belangrik dit is om op die regte plek, op die regte wyse, die regte verskil te maak.”

Helpende Hand daag jou instansie uit om op dié dag tien minute van hul tyd af te staan om die gemeenskapvraelys aanlyn op hul selfone of skootrekenaars in te vul.

Vir elke vorm wat op dié dag voltooi word, sal R10 aan die Helpende Hand Studietrust (HHST) geskenk word, wat behoeftige studente die geleentheid bied om verder te gaan studeer.

“Hierdie gemeenskapsvraelys help ons geweldig om ʼn verskil te maak waar dit regtig saak maak. Om net kos uit te deel, verlig dalk die onmiddellike, daaglikse nood, maar is nie volhoubaar vir die toekoms nie. Ons moet dus saamwerk om gemeenskapskrag te ontsluit,” sê Noëth.

Die navorsing sal beskikbaar gestel word aan instansies wat ʼn sosiale verantwoordelikheid teenoor sy gemeenskap dra, om hulle in staat te stel om hul eie aksies te evalueer en aan te pas om hul gemeenskappe te ontwikkel.

Besoek www.onsgemeenskap.co.za vir meer inligting en om die vraelys in te vul.

Deel jou nuuswenke met ons via:  

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za  

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:  

Instagram

Twitter

Witbank News toep

Facebook page

Witbank News Breaking

 
Back to top button