Local newsNews

Hoendereier skuif op, kwarteleiers is die nuwe inding

Kwarteleiers is die nuwe toevoeging op die spyskaart

Kwarteleiers? Nee, dankie, tot jy dit proe.

Tydens ‘n uitstappie by die vlooimark langs Pick n Pay in Watermeyerstraat het WITBANK NUUS aan die gesels geraak met me. Sandra Smith wat ‘n fundi is, as dit kom by kwarteleiers inlê.

Sandra het dadelik ‘n botteltjie oopgemaak en aangedring dat daar eers geproe moet word alvorens daar verder gesels gaan word.
Die klein ronde eiertjie proe nes ‘n hoendereier.

“Hierdie is ‘n eksotiese dis,” het sy vertel.

Die klein eiertjie weeg goed op teenoor sy hoendereier-boetie wanneer dit kom by voedingswaarde. Volgens die slimkoppe is die hoeveelheid fosfor en kalium vyf keer hoër en yster vier keer hoë in dié klein eiertjie.

In die Oosterse lande word leerders aangemoedig om elke dag twee sulke eiers te eet vir middagete, juis omdat die voedingswaarde so goed is.

“Dis die gesondste eier en ons besef nie die nut daarvan nie,” het Sandra die slimmes se stelling beaam .

Sandra glimlag as sy oor hulle geveerde boerdery praat.

“Ja, nee kyk hierdie is omtrent ‘n affêre. Ons begin by die broeikas, as daai kwarteleiertjie gelê is word dit dadelik kraamsaal toe oorgeplaas. Die volgende stop is die babakamer dan bevorder ons hulle Graad RR toe.”
“Die kuikens word oorgeplaas kleuterklas toe na ‘n paar dae, waarna hulle in die hospitaal opgeneem word en daarna uitgeskuif word na die herstelsaal. Intussen gaan kuier hulle by die apteek waar die broeipare bymekaar geplaas word,” het Sandra met ‘n lag in haar stem gesê.

Die uiteinde het sy vertel is die slagpale, want die ratio tussen die geslagte moet gehandhaaf word.

Sandra het darem ingestem om haar gebottelde kwarteleier resep met ons te deel, maar verseg om te vertel hoe sy haar kwarteleiermayonnaise maak.

“Ek gebruik pekelwater wat bestaan uit driekwart goeie wit asyn en ‘n kwart gedeelte water. Daar word net mosterdsaadjies, koljandersaadjies en fyngestampte groen gemmer en knoffel bygevoeg.”

Sandra het gesê as jy eers kwarteleiers insit gaan jy nooit weer tradisionele aartappelslaai met hoendereiers in maak nie.

As jy Sandra se kwarteleiers wil proe maak gerus volgende Saterdag ‘n draai by die vlooimark.

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telephone: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Email: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

Instagram

Twitter

Witbank News toep

 

Back to top button