Leané praat – “Coffee date turns into hell”

“Ja, ek was deel van hierdie hele voorval, maar wat daar gesê word en wat eintlik daardie aand plaasgevind het, is twee verskillende weergawes. Ek is hier om myself te verneder en die waarheid te praat, maar kan ons asseblief begin by die begin?”

“Hallo, ek is Leané. Die ‘girl’ waaroor julle geskryf het,” het die jong meisie haarself voorgestel toe sy verlede week in die WITBANK NUUS kantore instap.

Die oorsprong van haar onderhoud het begin na ’n berig in WITBANK NUUS op Vrydag, 16 April, ‘Coffee date turns into hell.’

Die berig het gehandel oor ’n storie rakende  ’n paartjie wat ’n misdaad in Maart 2020 gepleeg het.

Die twee verdagtes staar klagtes van beweerde ontvoering, afpersing en diefstal in die gesig in ’n bisarre verhaal van gruwels.

Die beskuldigdes,  ʼn man (29) en ʼn vrou (20) se eerste verskyning in die hof was op 3 Maart vanjaar en is uitgestel tot 12 Maart vir ʼn formele borgtogaansoek, maar is weens regskwessies weer tot 18 Maart uitgestel.

Op 26 Maart is borg van R2 000 toegestaan ​​aan die eerste beskuldigde (die vrou), maar die tweede beskuldigde (die man), is borg geweier en is steeds in aanhouding.

Leané van der Westhuizen is die die vrou wat teregstaan op die klagtes in die saak. Sy het aan WITBANK NUUS gesê dat sy haar kant van die storie wil vertel in die hoop dat die kritisering sal ophou en sosiale media boelies haar vir eens en altyd kan uitlos.

“Ja, ek was deel van hierdie hele voorval, maar wat daar gesê word en wat eintlik daardie aand plaasgevind het, is twee verskillende weergawes. Ek is hier om myself te verneder en die waarheid te praat, maar kan ons asseblief begin by die begin?”

Dit alles het begin toe sy maar ’n 14-jarige meisie was, die tydperk toe sy haar destydse kêrel ontmoet het.

“Ek was jonk en vreeslik rebels, ja ek het met verkeerde vriende deurmekaargeraak, dwelms begin gebruik en net agteruit gegaan van daar af. Ek het saam hom (die beskuldigde) gevlug, my eie oorplasingsvorms van die verandering van skole geteken en ons is Barberton toe. Daar het ek swanger geword en nie weer terug skool toe gegaan nie.”

Die paartjie is later getroud. Sy het die verhouding tussen haar en haar man  as “toksies” beskryf, ’n verhouding waar geweld glo die norm was.

“Ek weet die buitewêreld dink seker hoekom ek dan gebly het, maar ek was jonk, ek het gedink dat dit beter sal word en toe is ons tweede dogtertjie gebore. Ek het hier rooivlag op rooivlag begin sien en het besluit om die verhouding te beëindig en terug te trek na my ma toe. Alhoewel die omstandighede nie goed was vir my of my kinders nie, het ek begin aanbeweeg met my lewe en ’n man ontmoet. In daardie tydperk het my man teruggekom na my toe en weer het ek vergewe en is terug na hom. Hy het op ’n aand my foon gevat en deur hom gegaan waarop hy op boodskappe van my en die slagoffer afgekom het. Hy was briesend en het gesê dat hy die man wil bykom met ’n vuis, maar hy was nog altyd net grootmond en het ek dit nie juis ernstig opgeneem nie.”

Sy het aan WITBANK NUUS erken dat sy betrokke was by wat daardie aand met die slagoffer gebeur het.

“Ek was betrokke, maar ek het nie al die geweld toegepas nie. Ek is deur my man gedwing om die slagoffer te nooi vir koffie en vandaar af moes ek net saamspeel. Ek het die slagoffer met warm koffie gegooi, waarop ek vir hom gesê het dat ek vreeslik jammer is oor wat ek nou gaan doen,” het sy gesê.

Sy het vertel dat haar man die slagoffer van agteraf oorrompel, aangerand  en met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan het waarna die man sy bewussyn verloor het.

“Toe my man sien daar is vreeslik baie bloed, het hy aangedring dat ek die slagoffer moes vasmaak met ‘cable ties’ want hy soek nie bloed op sy hande nie. Ja ek het gemaak soos hy sê en dit gedoen. Daarna het my man die slagoffer met ’n skerp lemmetjie in die been gesteek en gevra hoe hy die situasie gaan regmaak, want anders gaan sy familie boet vir wat hy aan sy vrou en huwelik gedoen het. Hy het gebieg en gesê hy sal vir hulle geld, gee, maar dat hy nie aan sy familie moet vat nie. Dis toe die oorplasing van R57 000 gedoen is na ’n gesukkel. My man het daarna die slagoffer gedreig om ’n verklaring af te lê waar hy moet sê dat hy sy vrou verkrag het en dat die geld is vir die skade wat hy aan ons gesin berokken het. Die slagoffer het net alles beaam wat my man aangedring het op en ’n brief geskryf,” het sy bygelas.

Na die marteling wat ongeveer agt ure lank aangehou het, het Leané se man die slagoffer laat gaan, maar volgens haar eers ’n lang ‘man to man’ gesprek gehad voor haar man die hek oopgemaak het dat hy kon vlug.

“Ons het die dag voor die nasionale inperking na Richardsbaai gevlug waarop die mishandeling net erger geword het, waar hy sy ongelisensieerde wapen op my gerig het, my geslaan, gevloek en afgebreek het.”

Leané het vertel dat sy en die kinders  op die ou einde teruggekeer het na eMalahleni, waar sy haarself glo meer as twee keer probeer oorgee het by Middelburg Polisiestasie en die hof, maar tevergeefs. Ek het myself op 2 Maart by Witbank Polisie oorgegee.

Volgens Leané is daar so baie beskuldigings en skinderstories wat die ronde doen, “ek voel net dat ek my kinders wil beskerm teen wat nog wag”. Op die oomblik staan my lewe doodstil en my grootste droom is om net skoon oor te begin.” het sy ten slotte gesê.

*Leané en die ander verdagte sal weer op 18 Mei in Witbank Landdroshof verskyn.

Exit mobile version