Local newsNews

’n Jaar na ‘lockdown’

Gewapen met maskers, handskoene en liters handwasmiddels het drie van ons begin met ’n nuwe avontuur.

In ’n jaar, wat meer soos ’n ewigheid terug voel, het die hele wêreld tot stilstand gekom. ’n Sub-mikroskopiese virussie het dit reggekry om alles tot halt te roep. Dit het alles ʼn bietjie surrealisties gevoel.

Normale vryheid, wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, is ingeperk.

Skielik moet ons permitte in orde wees alvorens ons kon werk. Die koerant was op ‘skeleton-staff’ maar die koerant moes uit.

Gewapen met maskers, handskoene en liters handwasmiddels het drie van ons begin met ’n nuwe avontuur.

Joernalistiek het net daar vir ons verander. Skielik moes ons onderhoude telefonies doen en selfs Skype. Die dae van in die kar spring en jaag na ’n toneel toe was in die verlede. Tegnologie het een van ons belangrikste instrumente geword.

Een van my kollegas het vir ons toebroodjies en koeldrank gepak en ons het ’n ‘outing’ gemaak van elke keer wat ons een of ander minister op die snelweg moes gaan afneem wat met ’n temperatuurmetertjie gepronk het vir die media.

Intussen het dit gevoel of jy wil omkap van die hitte en tekort aan suurstof, terwyl die maskertjie maar styf om die ore span. Ons het hope selfies geneem om vir vriende te wys daar is lewe buite die huis.

Elke keer as Oom Cyril praat het ek somtyds na 23:00 in die aand gewerk om die berigte saam met my nasionale Covid-span op te dollie vir nasionale media.

By die huis wou die Engelsman gereeld weet ‘hoe lyk die buitewêreld’.

As gesin is daar gebak en brou en resepte uitgetoets. Ek is seker ons het die pynappelbier na die soveelste keer uiteindelik vervolmaak.

Ons pondokkie is oor en oor ‘gespring-clean’.

Covid het ons ook geleer dat die swartmark ’n florerende besigheid is.

Die Engelsman het gemor elke keer as hy R60 ’n pakkie sigarette moes betaal. Die goed moet eksoties wees, want dit het die mees interessantste name gehad.

Die bordspeletjies is afgestof en tot laataand het ons gesin gesels, gelag, natuurlik geëet en nog geëet.

Maar, daar was ook ’n negatiewe kant wat soveel gesinne geraak het. Huismoles is meer dikwels aangemeld, besighede het inmekaar getuimel, mense was werkloos. Mammas moes tuisonderrig behartig.

Die afgelope jaar was ’n harde leerskool. Dit het baie karakters gevorm en baie ‘casualties’ op die slagveld gelaat.

Wanner die storms van Covid te veel raak, gaan nestel ek op die bank langs die Engelsman met ’n kelkie fluweel-op-die-tong rooiwyn en luister hoe die ‘eish’ in sy glas rinkel. Dan sê ek dankie Oom Cyril, ons het darem ‘opgestock’. . . .

 

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za

 

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

Instagram

Twitter

Witbank News toep

Facebook page

Witbank News Breaking

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button