Local newsNews

Merle het jou gebed nodig

Emosioneel kwesbaar en verwese was die eerste emosies wat in Merle Coetzee opgeborrel het toe sy uitgevind het sy het borskanker.

Borskanker, ’n vloekwoord, die woord wat saggies geuiter word, ’n woord wat so baie vroue se lewens in ’n oogwink verander.

Tog is borskanker ʼn realiteit.

Daar is ’n lewe voor borskanker en een na borskanker. Baie vrouens voel verraai deur hulle eie liggame.

Kyk die video waar kanker-mamma vertel hoe haar lewe in ’n oogwink verander het.

Emosioneel kwesbaar en verwese was die eerste emosies wat in Merle Coetzee opgeborrel het toe sy uitgevind het sy het borskanker.

Die 37-jarige mamma van Ryan (10) en Candice (4) is onlangs gediagnoseer met fase-drie borskanker wat na haar limfklier en ander kliere versprei het.

Sy begin volgende week met ses maande se chemoterapiesessies by Kalafong Hospitaal.

“Na die chemoterapie gaan hulle sny en my bors verwyder. Daarna lê vyf weke van bestraling voor,” het sy skor gesê.

Met ’n dapper glimlag het sy vertel hoe sy agtergekom het sy het borskanker.

Voor die nasionale inperking was sy by Cups and Blossoms in Middelburg vir ’n mammogram nadat sy ’n knop in haar bors ontdek het.

Die knop is toegeskryf aan onder andere hormone en ’n verligte Merle het die knop geïgnoreer.

Maar, die knop het skielik begin groei en al seerder geword.

“Ek het die eerste gevaartekens gesien toe my tepel van kleur verander het en die knop seerder geword het.”

Sy is weer terug Cups and Blossoms toe en skielik was haar lewe in hoogste rat.

Merle Coetzee saam met haar kinders, Ryan en Candice.

 

 

 

 

 

 

’n Biopsie is gedoen en die vreesaanjaende realiteit het ingeskop toe dit bevestig is dat die knop kankeragtig is.

“Ek was altyd bang vir die ses-letterwoord, want borskanker kom in my familie voor. Ek het in my agterkop geweet kanker gaan eendag aan my deur kom klop, ek wou net nie nou al die deur daarvoor oopmaak nie.”

Merle het nie medies nie en sy werk op ’n kommissiebasis by ’n eiendomsagent.

Vriende, haar familie en haar kinders het haar vangnet geword.

Daar is dadelik ingespring en verskeie fondsinsamelings word gereël om Merle te help, veral met vervoer- en verblyfkostes.

Dit word op haar Facebook-blad Help Merle beat stage 3 breastcancer gedeel.

“Kanker was nie deel van my toekomsplanne nie. Skielik is dit deel van my en dit het my geloofsversterker geword. Dit het my geleer dat die klein dingetjies in die lewe dit is wat regtig saak maak. Ek het geleer wat deursettingsvermoë beteken, en wat geloof en die vashou aan beloftes beteken.”

Op 30 April word ’n gholfdag by Witbank Gholfbaan vir Merle gehou.

Die formaat is ’n vierbal-alliansie ‘scramble drive’.

Daar word om 09:00 afgeslaan (haelgeweer begin).

Kostes is R375 per speler of R1 500 per vierbal.

Gaatjies kan teen R2 000 geborg word.

Besprekings kan by die Pro-Shop gedoen word en gholfkarretjies kan ook daar bespreek word: 013 590 6709.

Vir meer inligting skakel Merle: 079 795 5208 of Lettie Mostert: 082 043 0830.

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

Instagram

Twitter

Witbank News toep

Facebook page

Witbank News Breaking                

Back to top button