Man val homself dood

Nantes de Lange se ma, me. Magda de Lange het op en af langs die water gestap en haar seun se naam heeltyd geroep, terwyl sy gebid het dat hy ongedeerd gevind sal word.

“Jou voetspore het dieper getrap as wat jy ooit besef het.”

Dit is die boodskap van  Nantes de Lange se broer, mnr. Tertius de Lange wat nie tot terme kan kom met die onverwagse nuus dat hy oor die naweek dood is nie.

De Lange was op 30 Januarie by ’n 21ste verjaarsdagpartytjie by Markon River Lodge net buitekant Bronkhorstspruit.

’n Groep vriende, waaronder De Lange, het besluit om van kranse wat die Wilgerivier omring, tot in ’n poel water te spring.

Die kranse is nie op die oord se grond nie.

Toe De Lange nie opkom nadat hy gespring het nie, het sy vriende benoud na hom begin soek.

“Die polisie se hulp is ingeroep, maar omdat dit donker geword het en sig baie moeilik was, is die soektog afgelas. Die terrein was ook baie moeilik begaanbaar,”  het mnr. Travis Clack van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Witbank Stasie 35, gesê.

Terwyl die besluit gemaak is om eers die volgende dag voort te gaan met die soektog, het De Lange se ma, me. Magda de Lange op en af langs die water gestap en haar seun se naam heeltyd geroep, terwyl sy gebid het dat hy ongedeerd gevind sal word.

Terwyl die nag sy donker gaan-slaap kombers oor die kranse gegooi het, het die familie onverpoos langs die rivier gebid en gesmeek dat dit net ’n nagmerrie of selfs net ’n poets moet wees.

Vroeg Sondag, 31 Januarie het die polisie met die ‘Off Road Rescue Unit’, die K9 Honde-eenheid en NSRI hande gevat en die soektog voortgesit.

Sy liggaam is kort daarna gevind.

“Dis moeilik om Nantes se lewensverhaal in ’n paar paragrawe op te som. Hy was so lief vir die lewe. Rugby speel en motorfiets ry was sy passie,” het sy swaer, mnr. Terence Opperman gesê.”

As matriekseun van Hoërskool Generaal Hertzog het hy by Witbank Ferro’s se derdespan begin speel.

Mnr. Riaan Kotze van Ferro’s Rugbyklub het gesê De Lange het elke Saterdag sy toks volgestaan vir die klub.

Hy het deur die range geklim en sy plek oopgespeel en vanaf 2005 voltyds vir Ferro’s begin speel.

“Hy het gereeld uitgedraf as kaptein vir die tweedespan en het ook verskeie wedstryde vir die eerstespan gespeel,” het Kotze gesê.

Dié kranige rugbyspeler het ook op amateur-vlak die Pumas by drie toernooie verteenwoordig.

Die kranse vanwaar mnr. Nantes de Lange afgespring het.

“Alhoewel Nantes ’n groot man was wat meestal slot of flank gespeel het, was hy ook ’n uitstekende sewes-speler wat die klub op verskeie toernooie verteenwoordig het,” het Kotze gesê.

De Lange het ook vir die Crusaders Motorfietsklub gery.

Mnr. Oppies Opperman, die president van die klub het gesê hulle is “stukkend”.

“Nantes was altyd die een wat die lekkerste kon lag, die grapjas wat ons almal op ons tone gehou het,” het Opperman gesê.

Mnr. Henlo Meyer, eienaar van Markon River Lodge het sy diepste medelye aan De Lange se familie en vriende oorgedra.

De Lange laat sy ma en pa, Madga en Bingle en broer en suster, Tertius en Nanette agter.

Lees meer hier: 

Crusaders Motorfietsklub groet lid wat dood is nadat hy van krans afspring

Bekende rugbyspeler sterf in fratsongeluk

GESELS MET ONS

Epos: wtbnews@mweb.co.za

Webtuiste:  Witbank News

Volg ons op Facebook: Witbank News- Facebook

Deel jou nuuswenke met ons op WhatsApp: 060 866 8682

Instagram WitbankNews001

Twitter @WitbankN

Toep    https://play.google.com/store/apps/details?id=com.witbanknews.android

Exit mobile version