Local newsNews

’n Groot boom het geval

Dr. Du Toit is op sy 75ste verjaarsdag op 7 Januarie dood wat ook die dag is waarop sy kleindogter Ava gebore is

’n Bekende en geliefde dokter van die stad, Dr. Daniel du Toit is verlede week dood na ’n terugslag en beroerte wat gevolg het nadat hy in die hospitaal opgeneem is vir dubbele longontsteking.

Dr. Du Toit is op sy 75ste verjaarsdag op 7 Januarie dood wat ook die dag is waarop sy kleindogter Ava gebore is.

Dr. Du Toit sal altyd onthou word vir die innemende glimlag en statige kopknik wanneer hy met ’n pasiëntelêer in sy hand vanuit sy spreekkamer na ontvangs geloop het om instruksies vir opname of sonars te gee.

Hy is ook baie bekend as die baba-dokter.

In sy loopbaan het hy meer babas ‘gevang’ as die gewone algemene praktisyn.

“So rofweg het my pa seker so 200 tot 300 babas ’n jaar gevang. Dit was uitsonderlik vir so ’n ou hand in die bedryf,” het sy seun Daniel vertel.

Dr. Du Toit het in 1972 in die destydse Witbank begin praktiseer.

Wanneer hy nie in sy spreekkamer of kraamsaal was nie, het hy sy liefde op hulle plaas, Kolobe Safaris uitgeleef.

Tussen die natuur was hy ’n veldkind wat God se skepping ten volle geniet het.

“Ons pa was ’n mense-mens. Sy liefde vir die mense om hom, het van hom die mens gemaak wat hy was,” het Daniel gesê.

Die boodskappe wat instroom skets die wonderlike man se nalatenskap.

“Ons gaan u so mis. U het dit u lewensdoel gemaak om ander te help, genees en te versorg. U sagte geaardheid was opvallend en die liefde vir u pasiënte onbeskryflik groot,” het past. Peet en dr. Anita van Kraayenberg geskryf.

Dr Danie van der Walt wat meer as 20 jaar lank saam met dr. Du Toit Bybelstudie gedoen het, het hom beskryf as ’n persoon by wie pasiënte altyd veilig gevoel het.

“Ek weet en is oortuig dat Daniel gemerk was deur die Heilige Gees en dat hy veilig gearriveer het in die hemelse troonsaal.”

Meer as 460 boodskappe van bemoediging is op sosiale media gedeel nadat daar Vrydag 8 Januarie ’n oomblik van stilte vir dr. Du Toit by Life Cosmos Hospitaal gehou is.

Dr. Du Toit laat sy vrou Antoinette, drie seuns Ernst, Riaan en Daniel, drie skoondogters Kirsten, Monica en Dorea en ses kleinkinders agter.

Sy roudiens het Woensdag om 11:00 vanuit die NG Klipkerk plaasgevind.

 

Back to top button