Man in boeie nadat hy hondjie steel en verkoop vir R20

Sumari het na die huis gestap waar die tuinwerker vir haar gewys het waar hy laas die man met die hondjie gesien het.

‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy ‘n hond gesteel en verkoop het.

Me. Sumari Lindeque het Sondag 20 Desember hulp op sosiale media gevra nadat haar kinders se nuwe speelmaat uit hulle erf gesteel is. Hulle bly in Uitbreiding 8.

“Ons het so teen 14:00 na Po begin soek, maar sy was skoonveld. Ek het so in die straat afgestap en gevra of iemand die hondjie gesien het. ‘n Tuinwerker het vertel dat hy gesien het hoe ‘n man die klippe voor ons hek wegskuif en Po van onder die hek uithaal,” het Sumari vertel.

Sumari het na die huis gestap waar die tuinwerker vir haar gewys het waar hy laas die man met die hondjie gesien het.

“Ons het in die buurt gery om te kyk of ons iemand met hond sien maar kon niks kry nie. Toe ons weer by die huis verby ry waar die man laas gesien was, het die vrou in die huis die man vir ons uitgewys.”

Sumarie het die man agtervolg en hom gevra, waarop hy gesê het hy wet niks van enige hond af nie.
Die man het later erken dat hy Po vir R20 verkoop het.

Die eienaar van die huis aan wie se vriend die hondjie verkoop is, het sy vriend gebel en die hele storie vertel.
Die man was reeds in Verena, maar het omgedraai en Po aan sy regte eienaars terugbesorg.

“Po was doodmoeg na die lang rit. Sy waaiende stertjie het vir ons vertel hy is baie gelukkig om weer by die huis te wees.”
Die verdagte is in hegtenis geneem.

Die Lindeque gesin het net lof vir die gemeenskapspolisiering forum wat gehelp het om Po terug te kry.

“In besonder wil ons net vir Oom Gert van Tonder van die GPF baie dankie sê vir sy hulp van die begin tot die einde.”

Exit mobile version