CrimeLocal newsNewsUpdate

Twee plaasaanvalle het Balmoral in rep-en-roer

In Julie was daar 40 plaasaanvalle, waartydens nege moorde gepleeg is en in Augustus was daar tot dusver agt plaasaanvalle en een moord

’n Man wat gereeld los werkies in die Balmoral-omgewing gedoen het, het vroeër die week in die hof verskyn na ’n aanval op ’n plaas in die area.

Die 35-jarige man het Dinsdag 11 Augustus in Witbank Landdroshof verskyn nadat hy na die aanval op ’n plaas deur die gemeenskap aangekeer is.

Dié aanval het op 8 Augustus plaasgevind.

Die slagoffer, me. Megan van Emmenis (67) was teen druktyd steeds in die hospitaal in Bronkhorstspruit vir observasie.

Kapt. Lizzie Mkaudi, woordvoerder van Vosman Polisie het gesê Van Emmenis se seun, André, het sy ma omstreeks 08:00 in haar kamer gekry nadat hy ’n gebreekte skuifdeur en bloedspatsels op die vloere gekry het toe hy gou by sy ma se huis gaan inloer het.

Die seun bly op dieselfde plaas slegs ’n hanetreetjie van sy ma se huis af.

Van Emmenis se swaer, mnr. Mike van Emmenis het gesê hy het sy skoonsuster se valstande buite die huis gekry waar ’n skuifdeur uit die muur gebreek is.

Hy is nie seker of die skuifdeur voor of tydens die aanval uitgebreek is nie.

“My skoonsuster is herhaaldelik oor die kop en deur die gesig geslaan tot sy haar bewussyn verloor het,” het hy gesê.

Volgens ’n inskrywing op Bronkhorstspruit en Omliggende Veiligheid se Facebook-blad het Van Emmenis haar hondjie omstreeks 01:00 uitgevat.

Toe sy weer in die huis ingaan het die man haar agtervolg en reguit na die laai gegaan waar sy vroeër vir hom geld uitgehaal het.

Hy het haar glo aanhoudend aangerand.

Die hopie klere wat by ’n gefnuikte plaasaanval op 6 Augustus gekry is. Dié klere behoort aan ’n beweerde plaasaanvaller.

Haar hondjie het blykbaar nie geblaf nie omdat hy die aanvaller geken het.

Me. Janeldi Botha van Legacy Emergency Specialists was die eerste een op die toneel.

“Tannie Megan se hondjie het onder die komberse styf teen haar gelê om haar te beskerm. Die tannie se kakebeen was potblou en haar gesig en beddegoed vol bloed,” het Botha vertel.

Sy het gesê hulle het Van Emmenis gestabiliseer, gemaklik gemaak en na die hospitaal vervoer.

Mnr. Van Emmenis het gesê die aanvaller is met net drie selfone, ’n beursie en ’n rekenaarskerm vort.

Hy het gesê die plaas is al drie weke lank in rou gedompel.

Die seer van sy broer se begrafnis op 28 Julie is nog rou. Boonop is hulle 89-jarige pa skaars ’n week voor sy broer se begrafnis oorlede.

“Ek het al gedink die plaas is getoor. Daar is soveel hartseer wat hier plaasgevind het,” het mnr. Van Emmenis gesê.

’n Besigheidsman van Balmoral  het gesê die aanval op Van Emmenis volg kort op die hakke van ’n gefnuikte plaasaanval twee dae vroeër.

’n Man het op 6 Augustus toegang tot ’n plaas gekry deur oor die hoekpaal in die donkerste deel van die erf oor ’n elektriese heining te spring.

“Hy het by die kombuisvenster geluide soos ’n kat gemaak in ’n poging om die huismense na buite te lok,” het die besigheidsman, wat anoniem wil bly, gesê.

Die beweerde plaasaanvaller het homself baie weerloos voorgedoen deur net in sy onderklere in die koue buite die venster te staan.

Die eienaar van die huis het na bewering sy vuurwapen deur die venster op die man gerig en hom aangesê om te sit.

Bystand is dadelik ingeroep en die man is gearresteer.

Nadat daar verder ondersoek ingestel is om te verseker dat alles veilig is, is spore van nog drie moontlike verdagtes op ’n trekker in die erf gevind waar hulle op die trekker geklim het om oor die elektriese heining te spring.

Om 05:44 het daar oproepe ingekom dat perde op die provinsiale pad raakgery is voor die huis.

“Ons het geknipte drade gevind en dieselfde spore soos op die trekker. Die perde is aangejaag tot in die grootpad waar twee van die perde doodgery is,” het die besigheidsman gesê.

Hy het bygevoeg dat die gemeenskap op Balmoral geskok is oor die twee voorvalle en sekuriteit is reeds opgeskerp.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 4 Augustus ’n formele skrywe aan die parlement gerig om ’n openbare verhoor oor plaasmoorde te hou.

Die skrywe is gerig aan Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, ná ’n skerp toename in plaasaanvalle oor die afgelope twee maande.

“Plaasaanvalle geweld neem drasties toe, AfriForum doen ’n beroep op veral boere om hulle veiligheid op te skerp,” het mnr.  Bronwen Pretorius, Afriforum se Hoëveld Distrikte Koördineerder gesê.

Volgens AfriForum was daar in Junie vanjaar 40 plaasaanvalle, waartydens vyf moorde gepleeg is.

In Julie was daar 40 plaasaanvalle, waartydens nege moorde gepleeg is en in Augustus was daar tot dusver agt plaasaanvalle en een moord.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button