Local newsMunicipalNews

Maak die munisipaliteit reg of ’n gemors?

“Dit wil vir my voorkom of die munisipaliteit groter skade veroorsaak as die probleem self. Kyk maar as jy deur die dorp ry... Om elke hoek en draai is daar ’n hoop grond en ’n gat in die pad, dan weet jy dadelik dat die munisipaliteit iets hier ‘reggemaak’ het.”

Die munisipaliteit van eMalalheni word keer op keer onder ’n vergrootglas geplaas hetsy dit vir swak dienslewering of geen dienslewering is…

Klagtes van inwoners stroom al vir ’n geruime tyd in oor die feit dat die munisipaliteit ’n groter gemors maak as wat die probleem in die eerste plek was.

Op 28 Mei is nog ’n klagte onder WITBANK NUUS se aandag gebring.

Volgens ’n inwoner wat woonagtig is in Die Heuwel het die munisipaliteit ’n waterpyp wat gelek het onder hul oprit reggemaak, maar het op die einde ’n groter gemors vir die inwoners agtergelaat.

“Hulle was hier na ons talle kere die waterpyp wat lek gerapporteer het en volgens hulle het hulle die probleem uitgesorteer. Dit was nie eers ’n week later nie toe het die einste pyp weer begin lek. Hulle het weer gekom en begin grawe om die lekkasie te stop, maar het op die ou einde net ’n groter gemors van die probleem gemaak,” het die inwoner ontstoke gesê.

Hierdie lekkasie het gemaak dat dié inwoners deur ’n modderpoel moet ry om by hul erf in te kom.

In ’n ander geval wat al in Februarie plaasgevind het, het die munisipaliteit ’n groot waterpyp wat in Plumerstraat gebars het, ‘reggemaak’ maar tot dusver is die straat nog nie bruikbaar vir ’n gewone voertuig nie. Nog ’n inwoner het aan WITBANK NUUS vertel toe hy eendag by die munisipale werkers gestop het om te hoor of hul na die herstelwerk darem gaan skoonmaak. Die werkers het toe glo blatant aan hom gesê dat ’n ander subkontrakteur die skoonmaakwerk moet kom doen.

 “Dit wil vir my voorkom of die munisipaliteit groter skade veroorsaak as die probleem self. Kyk maar as jy deur die dorp ry… Om elke hoek en draai is daar ’n hoop grond en ’n gat in die pad, dan weet jy dadelik dat die munisipaliteit iets hier ‘reggemaak’ het,” het nog ’n inwoner bygelas.

WITBANK NUUS het gaan aanklop vir antwoorde by die woordvoerder van die munisipaliteit, maar mnr. Lebo Mofokeng het geen kommentaar voor druktyd gelewer nie.

 
Back to top button