Uitgebuit deur desperaatheid vir ’n sigaret

“Ek is ewe skielik R60 gevra vir ’n pakkie sigarette wat ek nie eers geweet het bestaan nie.”

Elke roker het voorsiening gemaak vir genoeg ‘entjies’ toe president Cyril Ramaposa op 26 Maart die nasionale 21-dae inperking aangekondig het, min wetende dat hulle in twee weke se tyd sal hoor van die verlenging van die inperking…

Dis waar rokers en selfs drinkers begin swaar trek het, vinnig genoeg het elke roker ’n ‘ou’ geken of ’n kontak gehad wat desperate rokers kan uithelp met ’n sigaret of twee, maar ook teen ’n stewige bedrag.

“Ek het tot en met R60 vir ’n pakkie van die ‘brand’ wat ek rook betaal, maar met die desperaatheid vir ’n rokie het ek dit opgedok want ons sal mos weer op 1 Mei vrylik en wettiglik sigarette kon koop,” het ’n roker aan WITBANK NUUS kom vertel.

Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van samewerkende regering en tradisionele sake het vinnig ’n suur smaak in die van rokers se monde gelos toe sy die nuus enkele ure na die president se goedkeuring van verkoop van tabak afgejak het en dit vir nog so ‘rukkie’ verban het.

Dus het elke Jan Rap en sy maat dit goed gedink om oornag die pryse van sigarette aan te pas vir hul eie gewin.

Ek is ewe skielik R60 gevra vir ’n pakkie sigarette wat ek nie eers geweet het bestaan nie,” het een roker bygelas.

Die rokers het op die stadium verby desperaat geword en op sosiale media en gemeenskapgroepe begin vra waar hulle sigarette kan verkry en natuurlik was daar weer ’n ‘ou’ wat kon help.

“Hy het billike pryse gevra en in die tyd waar ons as mens moet saamstaan dink jy mos nie dat ’n mede-roker jou sal indoen nie,” het hy gesê net om sy R1 200 se sigarette na betaling nooit te kry het nie.

WITBANK NUUS is in kennis gestel van die ‘ou’ wat omgaan en almal lieg en bedrieg en het dadelik ondersoek ingestel.

Na die man gekonfronteer is deur die koerant het hy gesê, “ek is tans besig om die bestellings af te lewer.” Maar tot hede is geen aflewerings glo gemaak nie.

“Ongelukkig kan jy as roker nie hierdie man gaan aangee by die polisie nie, want in dié situasie is die deler net so goed soos die steler,” het die roker ten slotte gesê.   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version