Local newsNews

Oumas se gebak ’n groot bederf vir klein honger magies

Solidariteit Helpende Hand het te midde van die koronavirus-krisis steeds piesangskenkings ontvang van 15 bokse piesangs

Met piesangs kan jy ver kom.

Piesang is ’n ware stoorkamer van bruikbare stowwe.

Net een piesang sal soveel as 500 mg kalium bevat – en dit is genoeg om die druk te normaliseer en die balans van vloeistowwe in die liggaam te beheer.

Benewens hierdie nuttige minerale bevat elke vrug kalsium, natrium, magnesium, yster en fosfor, asook ’n aantal vitamiene.

Solidariteit Helpende Hand het te midde van die koronavirus-krisis steeds piesangskenkings ontvang van 15 bokse piesangs.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir die skenking,” het me. Annemarie van Heerden, streeksorganiseerder Helpende Hand, Mpumalanga en KwaZulu-Natal Noordstreek gesê.

“Aangesien die skole gesluit het en ons dit nie aan ons kosblikkie-skole kon uitdeel nie, moes dit in ’n gebak omgesit word. Ons het aan Immergroen en Edenpark, asook Huis Betsie Louw piesangs gegee.”

Met die wete dat net ’n ouma die hart van ’n kind kan verstaan is die oumas van Immergroen en Edenpark genader en gevra om piesangbrode te bak.

Tannie Thea van Edenpark was onmiddellik aan boord en ’n ander ouma het sommer drie piesangbrode uit haar eie vrieskas gehaal om vir Helpende Hand te skenk.

Die oumas was te ingenome met hierdie idee en het summier begin bak.

Solidariteit Helpende Hand het die bestanddele aangekoop sodat die oumas nie met die finansiële las belaai word nie.

Die groot geheim agter dié lekker piesangbrode is dat hulle met baie ouma-liefde gebak is.

“Ons bedank tannie Thea vir die koördinering van die gebak en dankie ook dat tannie sommer self ingespring en vir ons gebak het,” her Annemarie gesê.

Dié piesangbrode is gevries en sal uitgedeel word wanneer die skole weer heropen of die volgende kos uitdeelaksie wanneer 50 leerders elkeen ’n piesangbrood gaan kry om huis toe te vat.

“Dankie vir elkeen se bydrae tot hierdie projek, dankie vir ons donateurs wat so gereeld vir ons piesangs skenk en op Ons Winkel Witbank se voorstoep aflewer. Dankie aan ons baksters vir jul tyd en liefde hierin vasgevang. Geen woorde kan ons dankbaarheid beskryf nie. Ons is geseën met die wonderlikste pilare in ons gemeenskap wat ons mense se moed weer bou, dit skep ook ’n nuttige en diensbare gevoel vir die bejaardes in hierdie vreesagtige tydperk van die koronavirus en help hul om aktief in hul eie woonstelle te bly deelneem.”

Back to top button