Kinders kry gratis lesse by dié aanlyn leerplatform

Die Wolkskool is geskoei op nuwe, moderne wêreldgehalte onderwys-inisiatiewe wat leerders toerus vir die 21ste eeu

Volgens die Departement van Basiese Onderwys (DBO) is dit uiters belangrik dat die kontinuïteit van onderrig tydens die Korona-virus verseker word.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun hierdie standpunt en moedig skole en ouers aan om alle nodige maatreëls te tref om die impak van die virus te beperk.

Die Solidariteit Beweging se 10-punt plan tydens die verspreiding van die Koronavirus sluit in om Die Wolkskool tot 30 Junie gratis beskikbaar te stel vir alle leerders en skole.

Die Wolkskool is ’n aanlyn leerplatform vir Graad vier tot 12 met lesse in video-formaat, assessering, werkboeke en werkkaarte wat leerders in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas kan deurwerk.

Die Wolkskool is geskoei op nuwe, moderne wêreldgehalte onderwys-inisiatiewe wat leerders toerus vir die 21ste eeu.

Die aanbieding word deurlopend verbreed, maar fokus tans op wiskunde en wetenskap.

Enige leerder kan individueel aansluit en gratis van die lesse gebruik maak om te verseker dat hulle nie agter raak met hulle skoolwerk nie.

Skole kan ook hier aansoek doen om op Die Wolkskool te registreer en die leerplatform gebruik tot hulle weer terug is in die klaskamer.

Lesse op Die Wolkskool is saamgestel deur ervare SOS-onderwysers (oftewel Wolkskool-dosente) en is gebaseer op die amptelike KABV-kurrikulum van Suid-Afrika.

Enige leerder het by registrasie volle toegang tot alle inhoud:

• Geen betaling hoef dus tydens hierdie tydperk gemaak word nie
• Geen gratis koeponkode hoef vir hierdie tydperk gebruik te word nie
• Daar is ook geen verpligting om aan te gaan met die inskrywing na 30 Junie nie.
• Skole kan namens leerders hier aansoek doen

Hoe kry my kind toegang tot Die Wolkskool?

Stappe:

1. Registreer hier: https://wolkskool.co.za/registreer
2. Voltooi die nodige inligting
3. By “kies asseblief jou rol” selekteer jy “leerder” en klik dan op “skep rekening”
4. Klik op “klaskamers”
5. Klik op “OnsSkool”

Besoek gerus die volgende blad vir algemene vrae en antwoorde met ondersteunende materiaal: https://skole.co.za/wolkskoolvrae/

Exit mobile version