Nog geen motief vir grafskending van historiese graf nie

’n Klip met ’n gedenkplaat op is gedurende die grafskending eenkant toe gerol

Daar is nog geen duidelikheid hoekom generaal James Barry Munnik Hertzog, beter bekend as Barry se graf oor die naweek oopgegrou is nie.

Daar heers woede op die plaas Waterval nadat dié eertydse politikus en boere-generaal se graf op 14 Maart oopgegrawe en sy beendere moontlik verwyder is.

Duidelike merke van ’n laaigraaf wat verwoesting in die kerkhof gesaai het, het die polisie tot na Verena toe geneem waar daar op Maandag 16 Maart op die laaigraaf beslag gelê is.

Die man wat die laaigraf bestuur het, word ook ondervra.

Mnr. Basie Hertzog, jongste kleinkind van genl. Hertzog het gesê hulle het nog geen aanduiding wat die motief vir die grafskending is nie.

Die plantegroei in die familie kerkhof op die plaas Waterval het tydens die grafskendery Saterdag 14 Maart ook deurgeloop.

“Die bure in die omgewing het Saterdag onbekende mans by die familie-kerkhof gewaar. Ek het besluit om Sondag self ondersoek in te stel en op die graf afgekom wat oopgegrawe is,” het hy gesê.

’n Klip met ’n gedenkplaat op is gedurende die grafskending eenkant toe gerol.

Dis nie die eerste keer dat die graf geskend is nie.

In 1988 is twee mans gearresteer nadat hulle ook dieselfde graf oopgegrou het.

“Daar was toe gesê dat Sangomas hulle vertel het daar is geld saam met die oumense begrawe,” het Hertzog gesê.

Na daardie voorval is ’n dik laag sement oor die graf gegooi om verdere grafskendery van dié historiese graf te verhoed.

Genl. Hertzog is op 6 April 1866 gebore en is op 21 November 1942 oorlede.

Hy was ’n boeregeneraal tydens die Anglo Boere-oorlog en het later van 1924 tot 1939 as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika gedien.

Brigadier Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder het gesê ’n klag van grafskending word ondersoek.

“’n Vooraf ondersoek toon die graf is oopgegrawe en dat beendere moontlik verwyder is. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het brig. Hlathi gesê.

Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stopmisdaadnommer by 08600 101 111 te skakel.

WATCH: Laaigraaf wat genl. Hertzog se graf oopgrawe in Verena gekry

Genl. Hertzog se graf op familieplaas oopgegrawe

Exit mobile version