Genl. Hertzog se graf op familieplaas oopgegrawe

Die groot klip met die naamplaatjie wat in 1942 op die graf geplaas is, is ’n entjie weg van die graf af gevind

Die historiese graf van Generaal James Barry Munnik (Barry) Hertzog is oopgegrou.

Dié skok-ontdekking is Sondag 15 Maart omstreeks 15:00 gemaak.

Volgens die polisie in Verena is daar merkbare spore van ’n laaigraaf (TLB) op die toneel by die graf gekry.

Die groot klip met die naamplaatjie wat in 1942 op die graf geplaas is, is ’n entjie weg van die graf af gevind.

Die polisie het spesialiste ingeroep om te help met die ondersoek.

Genl. Hertzog se graf is in 1988 ook geplunder. Destyds is genoem dat die motief moontlik was dat mense geglo het dat daar geld saam met genl. Hertzog begrawe is.

Die familie op die plaas het gevra dat daar nie enige inligting deurgegee word rakende die ondersoek of wat die moontlike motief agter die oopgrawe van die graf is nie.

Dit is op hierdie stadium nog nie duidelik of die oorskot geneem is nie.

Genl. Hertzog is op 6 April 1866 gebore en is op 21 November 1942 oorlede.

Hy was ’n boeregeneraal tydens die Anglo Boere-oorlog en was eerste minister van die Unie van Suid-Afrika vanaf 1924 tot 1939.

Exit mobile version