Local newsNews

Rowers het bose nuwejaarsvoornemens

Ongelukkig vir twee families het die fees nie so feestelik uitgedraai ná rowers toegesak het op hulle nie

Nuwejaarsdag is jaar op jaar ’n groot feesviering vir die inwoners van eMalahleni en die reuk van braaivleis hang in die lug terwyl die jolige stemme eggo van alle kante af sodra die nuwe jaar begin.

Ongelukkig vir twee families het die fees nie so feestelik uitgedraai ná rowers toegesak het op hulle nie.

Op 31 Desember het mnr. Bonolo Masina en sy swaer die nuwe jaar begin vier en gesellig gesit en kuier toe drie booswigte hulle oorval het in Masina se erf.

“Ek was glad nie bewus van die mans in my erf nie en het eers besef wat aan die gang is toe ek ’n vreemde skaduwee langs my sien. Daarna het ek die loop van ’n vuurwapen teen my kop gevoel,” het Masina vertel van die gebeure.

Die booswigte het volgens hom aggressief opgetree en aangedring op hulle waardevolle besittings.

“Ek het alles gedoen wat hulle van my verwag het omdat ek geweet het my vrou en kinders is doenig in die huis. Hulle het alles gegryp en in enkele minute op vlug geslaan,” het hy ook gesê.

Die rowers is weg met drie selfone en ’n onbekende bedrag kontant, “hulle het selfs hulself gehelp met die drankies wat op die tuintafel gestaan het voor hulle weg is.”

Gelukkig is niemand in die proses beseer nie en was Masina se vrou en kinders onbewus van wat plaasgevind het gedurende die rooftog.

In ’n ander voorval wat op 1 Januarie gebeur het, het die slagoffers glo ook saam familie buite in hul erf gesit en kuier toe daar ook drie booswigte hulle verras het.

Die rowers het glo die eienaar van die huis gedwing om hulle deur sy huis te neem en gevat wat hulle wou hê. Na bewering het twee van die drie verdagtes vuurwapens by hulle gehad.

Hulle het op vlug geslaan met talle waardevolle besittings, onder andere selfone, skootrekenaars en televisies.

Geen arrestasies is tot dusver gemaak in verband met die twee voorvalle nie, maar word deeglik ondersoek deur die SAPD.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button