Hou nou op! Verkragtings en geweld teen vroue en kinders neem toe

Haar ma het na bewering vertel dat haar dogter die oggend saam haar vriendin na hul skool toe is om hul rapporte af te gaan haal, maar nie weer huis toe gekom nie

Daar word jaarliks ’n veldtog van 16 dae van aktivisme geloods om bewustheid rondom mishandeling teenoor vroue en kinders te beklemtoon.

Die 16 dae wat op 25 November begin het, het menige vrouens se stilte gebreek deur optogte wat vir die veldtog gereël is.

Ongelukkig staar die realiteit steeds ons vrouens en kinders in die gesig soos nog vyf sake van verkragting in dié tydperk aangemeld is by Witbank Polisiestasie.

Op 3 Desember het ’n slagoffer deurmekaar en verward by die stasie opgedaag na sy deur ’n anonieme inwoner in Christiaan de Wetstraat gehelp is, nadat sy daar gelê het.

Daar word beweer deur die slagoffer dat die laaste ding wat sy kan onthou is dat sy in Nelspruit deur ’n taxi afgelaai is om Johannesburg toe te reis.

Sy het glo net ’n hand van agter gevoel en ’n lappie op haar gesig gevoel… Daarna het sy eers haar bewussyn glo herwin toe sy wakker word langs die pad, in eMalahleni.

Na bewering is sy van al haar besittings besteel en het geen onderklere aangehad nie en glo vreeslike pyn in haar privaat dele gehad.

Daar is ’n saak geopen van verkragting en die SAPD het haar veilig terugbesorg by haar tuiste in Gauteng.

Op 4 Desember is daar nog ’n verkragtingsaak geopen deur ’n dame wat beweer dat sy verkrag is deur ’n man wat aan haar bekend is.

Die verkragting het glo tussen die Ou Verenapad en Klarinet plaasgevind.

In ’n ander voorval is daar beweer dat ’n minderjarige dogter ook verkrag is op 4 Desember in die Klarinet area.

Haar ma het na bewering vertel dat haar dogter die oggend saam haar vriendin na hul skool toe is om hul rapporte af te gaan haal, maar nie weer huis toe gekom nie.

Die oproepe na haar dogter se foon is nie geantwoord nie en het die ma glo uit die bloute ’n boodskap van haar dogter gekry wat sê dat sy eers op 7 Desember weer tuis sal wees.

Op dié gegewe dag het haar ma haar glo weer probeer bel waarop die minderjarige dogter geantwoord het en histeries gehuil het dat sy nie weet waar sy is nie.

Die slagoffer is later in Hlalanikahle gekry en kan glo niks van die vorige twee dae se gebeure onthou nie.

Nog ’n jong dame het haar stilte verbreek na sy op 7 Desember ’n saak van verkragting gaan open het.

Sy het na bewering saam vriende van haar skool gekuier toe ’n onbekende man daar opgedaag het met sy kar.

Die kinders is glo saam hom na ’n naby geleë winkel toe waar die verdagte die meisie in sy kar oorval en glo verkrag het.

Die dag na die voorval, op 8 Desember is nog ’n vrou na bewering beroof deur drie gewapende mans en daarna in ’n bos naby Klarinet ingetrek en glo verkrag.

“Ons kan nie aanhou veg en werk terwyl die oortreders van geslagsgebaseerde geweld aanhou om vroue te terroriseer nie. Hierdie verdagtes veroorsaak net pyn en angs in die slagoffers se lewens. Ons vra vir ’n gesamentlike benadering waar die publiek almal moue moet oprol en die polisie help om hierdie kwaaddoeners te arresteer. As die polisie in Mpumalanga sê ons dat niemand moet wegkyk as hy of sy inligting oor ’n geslagsgebaseerde geweld-verdagte het nie, maar onmiddellik die polisie kontak. Geslagsgebaseerde geweld het vir ons almal ’n doring in die vlees geword en ons kan dit nie bekostig om op ons louere te rus nie,” het die kommunikasiehoof van Mpumalanga SAPD, brig. Leonard Hlathi ten slotte gesê.

Exit mobile version