Dwelms in alle vorms en geure van strate af geneem

Na die eerste verdagte in hegtenis geneem is, het die polisie die SBG verlig met blouligte van straat tot straat en nog vier arrestasies gemaak

As dit van Witbank Polisie afhang, gaan geen dwelmhandelaar of -verslaafde ’n gesellige feesseisoen hierdie jaar hê nie, dít nadat ʼn indrukwekkende 18 dwelmverwante arrestasies gemaak is.

Die polisie was op ’n dwelmjagtog vanaf 13 tot 17 November en het allerlei dwelms van die strate in eMalahleni verwyder.

Op 13 November het hulle die strate begin fynkam en in Klipfontein ’n dwelmverslaafde vasgekeer na hy sy ‘fix’ vir die dag opgetel het.

Die volgende dag het die polisie volstoom hulle operasie afgeskop en vyf arrestasies gemaak. Die eerste arrestasie is in die Sentrale Besigheidsgebied (SBG) gemaak toe hulle die verdagte op straat voorgekeer, deursoek en vier pakkies met dwelms by hom gevind is.

Na die eerste verdagte in hegtenis geneem is, het die polisie die SBG verlig met blouligte van straat tot straat en nog vier arrestasies gemaak.

Die dwelms wat gevind is, is onder andere heroïen, dagga, ‘cat’ en kokaïen. Die ander dwelms wat nie uitgeken kon word nie is na die laboratorium geneem vir verdere toetse.

Op 15 November van vroegoggend het dwelmhandelaars saam hul ‘kliënte’ een vir een van die strate af begin verdwyn soos nog arrestasies gedurende die dag gemaak is.

In een van die voorvalle is drie beweerde dwelmhandelaars in Tasbetpark in hul tuiste betrap na ’n inwoner die polisie in kennis gestel het van die verdagte besigheid. In die huis is daar ’n groot klomp dwelms gekonfiskeer voor die verdagtes in hegtenis geneem is.

Op 16 November is nog talle arrestasies gemaak in die polisie se oorlog teen dwelms nadat nόg gebruikers gevang is.

Op 17 November is die SBG weereens onder die vergrootglas geplaas en ’n uitstekende arrestasie is gemaak waar daar in totaal 105 ‘pinches’ heroïen van die mark afgehaal is wat ʼn groot verlies was vir dié dwelmhandelaar. Die sukses het plaasgevind in die SBG se taxi-staanplek.

“Hierdie is net die begin van ons feesseisoen operasie en oorlog om vir eens ontslae te raak van dwelmhandelaars wat oral in eMalahleni wemel,” het die provinsiale woordvoerder van die polisie, brig. Leonard Hlathi ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version