Local newsNews

Bybels brand nie

Hoekom brand Bybels nie uit nie?

Drie weke gelede het WITBANK NUUS se voorblad uitgeskree: ‘Bybels brand nie’.

Dit is nie die eerste keer dat die koerant berig oor Bybels wat nie in huisbrande verbrand nie.

’n Paar dae nadat hul huis op 5 Maart deur ’n brand verwoes is, het Alicia en Fanus Schutte deur hul huis geloop en die drie Bybels wat in hulle huis was, was die enigste ding wat nie gebrand het nie. Dit het nie eens waterskade nie.

Op 14 Julie het me. Corrie Smit se huis in Tasbetpark aan die brand geslaan. Alles in haar huis het tot niet verbrand het, behalwe haar Bybel.

Op 25 Oktober het die huis in Steve Bantu Bikostraat wat bekend was vir sy pragtige kersliggies afgebrand.

Die volgende oggend het mnr. Koos Lubbe vier Bybels in sy huis gekry, ongeskonde.

Pastoor Deon Scheepers van die AGS Oasis-gemeente het gesê na verskeie berigte het hy bietjie gaan krap en gaan soek na antwoorde, maar kon niks konkreets kry wat mense, veral wetenskaplikes, hier rondom sê nie.

“Talle kere wanneer ek lees, word dit beskryf as ’n wonderwerk. Ek lees van ’n huis wat ook gebrand het en die eienaar van die huis het gesê dat dit vir hom net ’n bewys is dat al is daar soveel dinge teen hom, dat die Bybel wat nie gebrand het nie, vir hom ʼn bewys is dat God vir hom is.
Dit laat my dink aan Romeine 8:31 waar Paulus sê: ‘Wat sal ons dan van al hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees?’ Niks en niemand nie. Ek dink dit is juis in hierdie tyd waar jou huis of besigheid afbrand en waar jy alles verloor dat dit vir jou voel alles en almal is teen jou!”

Pastoor Scheepers het gesê al voel dit asof God jou op daardie oomblik verlaat het, die Woord, die Bybel ons kom leer in Hebreërs 13:6 dat die Here jou God jou nooit sal begewe en jou nooit sal verlaat nie.

“En watter groter en beter manier is die Bybel wat geen skade het en nie uitgebrand is nie dat God ’n Waarmaker is van Sy Woord en bring Sy beloftes tot stand.”

Hoekom brand Bybels nie uit nie?

“Dit bring my ook by ’n slotsom uit dat daar niks is wat God kan vernietig nie. Die Woord, Bybel, leer ons dat Hy was, Hy is en sal tot in ewigheid daar wees. Hy is God en Hy is almagtig en kragtig. Daar is niks wat Hom kan verwoes of vernietig nie. Al is die Bybel deur mense geskryf, is hulle deur die Gees van God geïnspireer om dit te doen. Die Bybel is die Woord van God. Ons lees dat die hemel en aarde sal vergaan, ons huise, ons besittings sal tot niet gaan, maar die Woord van God sal nooit verbygaan of tot niet gaan nie. Die Woord van God, die Bybel is kragtig en is ook skerper as ’n tweesnydende swaard.”

Pastoor Scheepers is van mening dat dit dus ’n bewys is dat God se Woord nooit tot niet sal gaan nie.

“Deur dit alles kom mens net weer tot die besef dat God ’n werklikheid is en dat niks en niemand Sy Woord kan vernietig nie. Sy Woord staan vas.”

Back to top button