Pasop vir boewe wat jou geld op slinkse manier steel

Dit was na Vermaak en haar man die lugtyd aan hom gestuur het dat ‘Boet’ se foon sommer af was en af gebly het

Soos die feestelike atmosfeer die inwoners van eMalahleni bombardeer, vermaan die polisie die publiek om versigtig te wees vir slinkse karakters wat jou geld wil steel.

Daar word al ’n geruime tyd oor die ‘lugtydboef’ gepraat en name soos ‘Bertie’, ‘Boet’ of ‘Bertus’ moet jou dadelik ’n rooi vlag laat sien, want hy bel uit die bloute om ’n skenking te maak of woonplek te huur aan te bied.

“Die eerste keer het ’n man met die naam Boet my gebel en vir ons ’n skenking aangebied, maar dat ons dit by hom moet gaan afhaal. Hy het vertel dat hy op ’n plaas langs die Verena-pad bly en ons by sy ingang sal inwag,” het een van die slagoffers, me. Hettie Vermaak van die bedrogspul vertel. Alles het in orde geklink en ons het die pad gevat na ‘Boet’ toe om die skenking te gaan haal.

“Hy het my kort-kort gebel en gevra of ons al naby is omdat hy sy werkers moet kry om die vrag goedere wat hy aan ons skenk, op te laai en dat hy nêrens heen kan gaan voor ons nie daar is nie. In dieselfde sin het hierdie ‘Boet’ gevra of ons nie dalk vir hom twee R110 lugtyd-kaartjies kan stuur nie en dat hy dadelik sal regmaak met ons as ons by sy plaas kom,” het Vermaak bygelas.

Dit was na Vermaak en haar man die lugtyd aan hom gestuur het dat ‘Boet’ se foon sommer af was en af gebly het.

Dit het met verdere ondersoek aan die lig gekom dat die ‘lugtydboef’ in Paxton Korrektiewe Dienste sit en sy ‘prooi’ inkatrol deur die WITBANK NUUS te gebruik om sy volgende slagoffer te vang.

Dié betrokke gevangene lees die koerant en stel deur middel van artikels en advertensies in die koerant vas wat se funksies plaasvind en bied dan skenkings aan of bestel selfs goedere wat dan by hom op die ‘plaas’ afgelewer moet word.

Die Gebiedskommissaris van Paxton Gevangenis, mnr. Mandla Sibanyoni het gesê dat hulle wel bewus is van die gevangene wat hierdie soort bedrog pleeg uit die selle en dat hulle alles in hul vermoë doen om sulke oortredings en voorvalle stop te sit.

“Die groot probleem lê by die gevangenes se kuiergaste wat skelm verbode items insmokkel gedurende besoektye,” het hy ten slotte gesê.

Daar word beweer dat die gevangene intussen oorgeplaas is na ’n ander Gevangenis toe.

Exit mobile version