Local newsNews

Boks maak die steiltes bietjie meer draaglik

In die boks is daar ietsie van alles wat ’n borskanker pasiënt sommer sal laat glimlag en as daar ’n traantjie loop kom die boksie snesies handig te pas

’n Inspirerende vrou het ’n idee laat posvat wat aan duisende vrouens ’n verskil kan maak.

Me. Retha van Greunen, borskanker-oorwinnaar en ook die baasbrein agter die Bettie Bandana boks wat daarop gemik is om vrouens wat met borskanker gediagnoseer is, te laat weet hulle is nie alleen op hierdie steil bult in hul lewe nie, is die inspirasie agter Solidariteit Helpende Hand Witbank se Triomf Boks.

Dié tak het van Retha se projek te hore gekom en met haar permissie en seën hul eie projek geloods en die eerste Triomf Boks is Donderdag 10 Oktober bekendgestel.

In die boks is daar ietsie van alles wat ’n borskanker pasiënt sommer sal laat glimlag en as daar ’n traantjie loop kom die boksie snesies handig te pas.

“Ons glo dat vrouens altyd baie spesiaal en bederf moet voel. Partykeer is dit nodig om ’n skuimbad te tap, ’n kersie aan te steek om jou warboel van gedagtes en emosies met ’n glasie druiwesap uit te sorteer. Daarom het ons ’n heerlike wyntjie, ’n mooi glas, ’n kersie, badsout en ook ’n paar slippers in die boks,” het me. Michelle Viljoen, voorsitter van die tak gesê.

Sy het genoem dat daar in die boks ook handige items ingepak is soos ’n sagte band wat om jou sitplekgordel vasmaak sodat die sitplekgordel jou nie seermaak as jy êrens heen moet ry nie.

Dan is daar ook ’n mussie en bandana in as jou hare begin uitval van chemoterapie.

Daar is ook ’n unieke kalender in sodat die vrou haar afsprake noukeurig kan aanteken.

’n Waslap, seep, lyfroom en lipsalf maak ook deel van die inhoud uit.

’n Paar gebreide borste is ook ingesluit wat handig te pas kan kom tot die vrou op prostese besluit al dan nie.

’n Boksie met bemoedigende woorde is ook ingepak en dit is om die vrou te dra wanneer die bult baie steil word.

“Hierdie is ’n fantastiese projek wat weereens bevestig dat ons omgee. Die gedagte daarin dat iemand anders jou bystaan in die moeilike tyd is iets wat jou altyd sal bybly. Ek glo dat die projek van krag tot krag sal groei in Solidariteit Helpende Hand takke,” het me. Annemarie van Heerden, Mpumalanga en KZN Noord streeksbeampte gesê.

“Baie dankie aan Mari Swanepoel, Shivvon Serfontein Kachelhoffer en Roxy van Bruwaene vir die skenkings wat die projek so ’n sukses gemaak het: Ook aan elke lid van ons span wat iets geskenk het om in die boks te sit, baie dankie vir julle en julle insette en idees,” het Michelle gesê.

Die publiek kan ook betrokke raak by die projek.

Daar is nog baie Triomf Bokse wat gevul en uitgegee moet word aan vrouens wat met borskanker gediagnoseer is.

As jy aan iets kan dink wat ook in die boks gesit kan word of iets kan skenk vir die boks, moet nie huiwer om Michelle te bel nie: 083 285 8875.

Back to top button