Local newsNews

Ouma Gladys het jou tien teen een ook gevang

Met die splinternuwe epoulet aan het Ouma Gladys se verpleegloopbaan in 1950 afgeskop

Waar Ouma Gladys Harmse in die oggendson sit, vorm die sonstrale ’n stralekrans om haar.

Haar oë en aansteeklike laggie is nog nie 90 jaar oud soos dit op haar identiteitsboekie aandui nie.

Inteendeel, dis net die loopraam wat weggee dat sy ietwat sukkel om te loop.

“Wat verwag jy na 90 jaar,” wou sy glimlaggend weet.

Ouma Gladys, of suster Harmse soos baie haar ken, is ’n legende in eMalahleni.

Sy het al meer babas in Witbank Hospitaal gevang as wat sy kan onthou.

Nou onlangs was sy saam met haar dogter, Anne-Marie en kleindogter, Santa-Marié by ’n restaurant toe ’n man haar sommer ’n klapsoen gee. Mnr. Johan Coetzee (60) het gesê Ouma Gladys het hom ‘gevang’ en al wat hy wou hê is ’n foto saam met die suster wat hom heel eerste vasgehou het.

“Dit was die goeie ou dae, dae waar 10 kraamgevalle ’n aand nie snaaks was nie,” het Ouma Gladys vertel.

“Ons het letterlik gevang, afgedroog, op mamma se bors gesit en die volgende een gaan vang.”

Daar was toe net twee kraamsusters in die hele hospitaal en menigmaal het Ouma Gladys se Kersoggend met ’n kraamgeval afgeskop. Daarna was sy huis toe om ’n Kersete te gaan opdis.

Met die splinternuwe epoulet aan het Ouma Gladys se verpleegloopbaan in 1950 afgeskop.

“Ek was eers in Pretoria, maar ek kon nie aan die stad gewoond raak nie. Ek is van die Vrystaat af, ’n klein plekkie met die naam Boshof. Ek is toe na die destydse Witbank verplaas.”

Ouma Gladys se liefde was nie net vir die kraam-afdeling nie, die adrenalien van ongevalle het haar soos ’n magneet getrek en sy het dikwels in dié afdeling ook gewerk.

“Ons het ons oor ’n mik gewerk, maar tussen pasiënte deur het ons tyd gekry om die hospitaal se gordyne self by die huis te gaan was en ons het die sale ook self skoongemaak. Ons was trots op Witbank Hospitaal wat daardie tyd nog ’n pragtige, statige hospitaal was. Ouma Gladys se familie het gegroei en sy moes soos ander mammas ook sportbyeenkomste en dies meer bywoon. Weereens het die verpleegster in haar oorgeneem en sy was lank bekend as Ouma Klippies waar sy die noodhulp langs die atletiek- en netbalbane en rugbyvelde waargeneem het. Sy was ook die noodhulp-tannie by menige karate kampioenskap waar haar een kleindogter, Santa-Marie, deelgeneem het. Santa-Marie het haar ouma se gene geërf en is vandag ’n dokter. Ouma Gladys het in 1989 afgetree. “Dit was baie moeilik om af te sluit. Dit was moeilik om uit die hospitaalroetine te kom. Maar, ek geniet die aftrede en natuurlik koester ek elke oomblik saam met my kleinkinders en agter-kleinkinders.”

Ouma Gladys het toentertyd ’n appeltert resep by een van haar pasiënte gekry en sy word nogal hoog aangeskryf oor dié lekker appeltert.

Sy het belowe met die volgende kuiertjie word dié appeltert al vroegoggend in die oond gesit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button