Local newsNews

Ons gaan by Billy kuier

Nou wat is die wenresep om ’n goeie kroegman, of kroegdame soos Billy na homself verwys, te wees?

Billy Thompson is ’n legende in eMalahleni.

Diegene wat gereeld by Pink Panther gaan dans sal ook vir jou sê “Vanaand gaan ons by Billy kuier”.

Saam met Billy is ’n glasie geklink op Pink Panther se 21ste verjaarsdag wat die afgelope naweek gevier is.

Billy, (59) is al meer as 40 jaar lank doenig agter die kroeg. Hy het destyds by die ou Boulevard Hotel begin werk en na net meer as 15 jaar dié kroegtoonbank vir C’est Bon s’n verruil.

Die afgelope 20 jaar is hy die bekende gesig agter die kroeg by Pink Panther.

“Ai, die ou dae was goeie dae,” het Billy vertel.

Sy eerste herinnering klop aan vanuit sy dae by die Boulevard Hotel.

“Ek het eers in die dameskroeg gewerk. Die dames was altyd netjies, goedgemanierd en vriendelik. Ek is toe gevra om in die manskroeg te gaan werk. Jy moet onthou mans en vrouens het in daai dae nie in dieselfde kroeg gekuier nie. My eerste aand was ’n nagmerrie.”

Billy het gesê hy was maar senuweeagtig, hy het die skaal skaars op 60 laat draai en van die ‘ooms’ wat in daardie kroeg gekuier het was groot ooms.

“So met die intrapslag was ek nog besig om glase blink te vryf toe een van die groot manne instap en vir my sê ‘Ek soek ’n dop en wie is jy?’ Die binnekant van my hart het soos ’n wegholtrein geklop. Ek het by myself gedink, Billy ruk jou reg en hou jou ‘pose’.”

Nadat Billy die man se drankie neergesit het, het die deur oopgegaan en nog ’n groter man het ingestap gekom en bestel.

“Die man het my so van bo af gekyk en gevra ‘Wie is jy?’ Hy het ook ’n drankie bestel en sê toe sommer hulle sal heelaand hier drink en ek sal betaal. Billy het verduidelik hoe die sweet hom begin afstroom het, hoe sy broek letterlik gebewe het en hy klaar gesien het hoe die groot ooms hom oor die toonbank gryp en soos ’n vrot vel eenkant toe gooi.”

“Iewers het ’n kalmte oor my gespoel en ek het die ooms in die oë gekyk en gesê dat hulle nie die kroeg sal verlaat alvorens hulle rekening betaal is nie. Ek het dit selfs reggekry om vir hulle te sê as hulle nie daarvan hou nie, kan hulle ’n ander drinkgat gaan soek.”

Tot vandag toe kom kuier die ooms gereeld by Billy.

Billy en sy lewensmaat, Stanley Basson bly al 36 jaar saam in Schoongezicht.

“Glo my ons het al meer as sewe sakke sout saam opgeëet. Ek is familievas. Sondae gaan ons kerk toe, dan kook ek vir my mense. Dis so lekker om by ’n tafel te sit en te lag en gesels. Ek waardeer sulke oomblikke.”

Nou wat is die wenresep om ’n goeie kroegman, of kroegdame soos Billy na homself verwys, te wees?

“Dit gaan oor respek. Ek is ’n huweliksraadgewer, ’n sielkundige, ’n terapeut, ’n pak-af-plek. Ek is net Billy ….”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button