Local newsNews

Kinders vertel van R40-rooftog

Jadon het vertel dat die rowers die geld uit die kasregister gevat het en toe uit die winkel is

Gewere, rooftogte en gewapende mans is gewoontlik iets wat jy net op televisie sien of van lees in die koerant, maar wie sê jy gaan dit vryspring?

Wat Maandag 2 September begin het as net nog ’n normale dag vir Melandè Louw (10), Dilano (14) en Jadon Coutinho (15), het uitgedraai as ’n dag wat hul R40 vir ‘slap chips’ heel moontlik hul lewens gered het.

“My man het die kinders daar afgelaai om vir hulle ‘slap chips’ te koop, hulle sou daarna huis toe stap. Ons bly letterlik om die draai. Nietemin, my man het skaars gery toe stap ’n gewapende man daar in met ’n geweer,” het me. Yolandè Louw, die kinders se ma vertel.

Jadon het bygelas: “Die ou het sy geweer in die lug gewys en dit gelaai. Hy het nie ’n masker aangehad nie. Daar het twee ander mans ook ingestap, beide gewapen. Ek het na die eerste ou geloop en vir hom ons R40 aangebied om uit die winkel te kan kom. Hy het gesê: ‘I don’t want your money’ en ons beveel om tussen die rakke te gaan lê.”

Met die natuurlike instink-vraag: ‘wat het jou besiel om dit te doen?’ het Jadon gesê: “My boetie het gesê ek moet die geld vir hom gee.
Die rower het die geweer in my gesig gedruk en ons drie het daarna naby die yskaste in die winkel gaan lê.” Yolandè het gesê dat haar man hulle altyd leer om ten tyde van ’n roof of inbraak, net alles vir die rowers te gee wat hulle het.

“Dit was seker maar hieroor dat hierdie instink ingeskop het.”

Intussen het die drie die selfone, MP3-speler en ‘bluetooth speaker’ wat hulle ook by hulle gehad het, onder die yskaste ingegooi om dit weg te steek vir die rowers.

“Hulle het ons deursoek en toe in elk geval die R40 gevat wat ek vroeër vir hulle aangebied het.”

Jadon het vertel dat die rowers die geld uit die kasregister gevat het en toe uit die winkel is.

Die eienaar is agterna en het hul met bakstene probeer moker; geweerskote deur die rowers het deur die lug weergalm.

Die kinders het sonder hul ‘slap chips’ by die huis gekom en Jadon het gesê dat hulle geld gesteel is.

Yolandè het gedink die kinders maak ’n grap, “maar toe ek Melandè se gesiggie sien toe sy agter Jadon uitstap, het ek dadelik geweet iets het regtig gebeur. Die kinders het vir my hierdie storie vertel en dit het gevoel of my siel uitgeruk word.”
Dilano het vertel: “Toe ons daar lê, het ek net vir Jadon gesê: ‘kom ons los die ‘chips’.”

Die kinders het elk ’n ander ervaring gehad en hul denke op daardie oomblik was natuurlik angsbevange en traumaties.

Melandè het gesê: “Ek het gedink Jadon is seker die veiligste van ons al drie, want hy het tussen kaste gelê. Ek het gedink hulle gaan my seker in my rug skiet.”

Yolandè het gesê dat elke kind dit op hul eie manier hanteer maar dat sy in soveel dankbaarheid lewe dat haar kinders die nare ondervinding redelik goed hanteer.

“My kinders het nie eers speelgewere gehad toe hulle klein was nie, maar hulle weet presies watter gewere die rowers gehad het,” het Yolandè ten slotte gesê.

Back to top button