VIDEO: HGH maak hulle stemme dik op die kassie

Die Amimato A Capella-sangkompetisie word jaarliks aangebied waar skole van regoor die land kan deelneem

A Capella is wanneer mense sing en hul stembande as enigste instrument gebruik om musiek mee te maak. Dit sit ook gewoonlik nie in enige ou se broek om dit te kan doen nie.

Bekendheid en bemarking gaan jou nêrens bring nie, want hier tel net een ding; ware talent!

Die Amimato A Capella-sangkompetisie word jaarliks aangebied waar skole van regoor die land kan deelneem.

Nou vir die eerste keer word hierdie kompetisie professioneel opgeneem en verpak vir TV sodat die hele land kan sien wat agter die skerms gebeur om dié kuns, klank en perfekte harmonieë tussen stembande en kinders te meng tot ʼn klank wat asems wegslaan.

In Stem Saam het die produksiehuis CoolerBox Brothers met die stigter van Animato A Capella-kompetisie, Lizelle van Staden (stem)bande saamgesnoer en is tans besig om verlede jaar se top drie wenskole, agter die skerms te skiet en dit weekliks op VIA uit te saai.

Die regisseur is George van Rooyen en die vervaardigers is Marno Koen en Michael van Zyl.

In elke episode volg hul die drie skole vanwaar hul oudisies hou, repeteer, optredes doen en als wat nog daarmee saamgaan om vir die hele land te wys hoe ware talent lyk.

Die drie skole wat verlede jaar in die top 3 posisies geëindig het, word gebruik in die Stem Saam reeks en hulle is Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria met Steffie le Roux as afrigter en Anja Woolls as organiseerder.

Dan is daar ook Hoërskool Linden, Johannesburg met afrigters Marius van Staden en Abigail Vos, wat georganiseer word deur Da Nielle Jordaan.

Die derde skool wat gebruik word in die reeks is ons eie Hoërskool Generaal Hertzog.

Die afrigter daar is Hester Kritzinger en een van die skoolmeisies, Lee-Ann Ledwaba, georganiseer deur Alula van Wyk.

Kykers kan alreeds inskakel vir ’n blik wat agter die skerms gebeur waar hierdie drie skole nou in ʼn TV-reeks teen mekaar gaan meeding in 13 episodes.

Die publiek kan ook die semi- en finale opnames bywoon op 4 en 5 Oktober wat opgeneem gaan word by die Woord en Lewe Kerk op die hoek van Trichardtsweg en Kingfisherlaan, Sunwardpark, Boksburg.

Kaartjies is slegs R60 en beskikbaar by www.itickets.co.za.

A Capella-musiek is hier om te bly, veral as jy kyk na internasionale platforms waar A Capella die in-ding is.

Dink maar aan Glee, Pitch Perfect, Pentatonix, ens. CoolerBox Brothers het invloede van regoor die wêreld saamgesit, talent op eie bodem gebruik en só hul eie stempel op ʼn genre gesit wat nooit sal uitsterf nie.

Kyk Stem Saam, elke Vrydagaand om 20:00 op VIA (Kanaal 147).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version